SPREUKE 3:13-35

SPREUKE 3:13-35 Bybel vir almal (ABA)

Dit gaan goed met die mens wat wysheid gekry het, met die mens wat verstandig geword het, want om wysheid te kry, is beter as om silwer en goud te kry. Wysheid is meer kosbaar as koraal. Baie dinge is vir jou kosbaar, maar niks is so kosbaar soos die wysheid nie. Die wysheid gee vir jou 'n lang lewe. Jy sal ook ryk word, en mense sal jou respekteer. Iemand wat wysheid het, geniet die lewe, en dit gaan goed met hom. Wysheid is soos 'n boom. As jy vashou aan die wysheid, dan hou jy vas aan 'n boom wat lewe gee. Die mens wat aan die wysheid vashou, is 'n gelukkige mens. Die Here het wysheid en verstand, Hy het die aarde en die hemel gemaak. Hy het geweet wat om te doen, Hy het fonteine uit die diep water laat stroom en Hy het die wolke vol water gemaak. My kind, jy moet met ware wysheid lewe, jy moenie ophou om verstandig te wees nie. As jy met wysheid lewe, dan sal jy 'n lang en 'n mooi lewe hê. Dan sal jy veilig loop op jou pad deur die lewe en jy sal nie jou tone stamp nie. Jy sal dan nie bang wees om te gaan slaap nie, jy sal gaan lê en jy sal lekker slaap. Jy moenie bang wees dat dit skielik sleg sal gaan met jou nie. Wanneer die stormwinde begin waai oor die mense wat verkeerd doen, dan moet jy nie bang wees dat hulle ook oor jou sal waai nie. Want die Here sal by jou wees, Hy sal keer dat jou voet nie vassit in 'n vangstrik nie. Wanneer jy iemand moet help en jy kan dit doen, dan moet jy nie wag nie. As jy dadelik kan help, dan moet jy dit doen. Jy moenie sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan sal ek jou help” nie. Wanneer iemand naby jou is en hy voel veilig, dan moet jy nie sit en dink wat jy kan doen sodat dit sleg kan gaan met hom nie. Wanneer iemand onskuldig is en hy het niks sleg gedoen aan jou nie, dan moet jy nie sê dat hy skuldig is nie. Jy moenie probeer om te wees soos iemand wat ander mense altyd wil seermaak en doodmaak nie. Want die Here haat slegte mense, maar mense wat reg lewe, is sy vriende. Die Here vervloek die huisgesin van die mens wat verkeerd doen, maar Hy seën die huisgesin van die mens wat reg lewe. Wanneer mense dink dat hulle vir ander mense kan spot, dan spot die Here vir húlle. Wanneer mense weet dat hulle nie hulleself kan help nie, dan is die Here goed vir hulle. Wanneer iemand wysheid het, dan sal mense hom respekteer, maar mense wat dwaas is, sal meer en meer dinge doen waarvan mense nie hou nie.

SPREUKE 3:13-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is 'n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig. Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel; deur sy kennis het die watervloede oopgebreek en het die wolke dou gedrup. My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg, dan sal dit die lewe wees vir jou siel en 'n versiersel vir jou hals; dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie; as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir 'n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik. Hou 'n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het. Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. Twis nie sonder oorsaak met 'n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie. Wees nie afgunstig op 'n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes. Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade. Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande.

SPREUKE 3:13-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer 'n groter opbrengs as goud. Dit het meer waarde as edelstene; wat jy ook al as kosbaar beskou, niks kan daarmee vergelyk word nie. Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom en eer. Die wysheid bring 'n ryk en 'n vol lewe. Dit is 'n bron van lewe vir wie dit aangryp, dit gaan goed met dié wat daaraan vashou. Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê en die hemel gebou met insig. Deur sy kennis is die groot waters van mekaar geskei en drup die wolke van vog. My seun, behou die takt en oorleg; moet dit nie uit die oog verloor nie, dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker en soos 'n pragtige halssnoer vir jou wees; jy sal jou pad veilig loop en jou voet nie stamp nie; jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap. Moenie bang wees dat 'n ramp jou skielik sal oorval, dat die storm wat vir slegte mense bedoel is, jou sal tref nie, want die Here sal jou beskerm, Hy sal sorg dat jy nie in 'n strik beland nie. Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie. Moenie kwaad teen iemand beplan terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. Moenie 'n man sommer aankla as hy jou nie kwaad aangedoen het nie. Moenie 'n man wat sy mag misbruik, beny nie en moenie self soos hy maak nie, want die Here het 'n afkeer van 'n slegte mens, maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue. Die vloek van die Here rus op die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van dié wat aan Hom getrou is. Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is. Wyse mense verkry eer, maar dwase kom al hoe meer in die skande.

SPREUKE 3:13-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hoe gelukkig is 'n mens wat wysheid vind, en 'n mens wat verstandigheid verkry! Ja, die wins wat wysheid lewer, is meer as dié van silwer, meer as dié van goud is haar opbrengs. Sy is kosbaarder as koraal; niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie. 'n Lang lewe is in haar regterhand, en in haar linkerhand, rykdom en eer. Haar weë is aangename weë, en al haar paaie is vrede. 'n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem. Die HERE self het die aarde gegrondves met wysheid, die hemel gevestig met verstand. Deur sy kennis is die •oerwaters gekloof en drup die wolke dou. My seun, vindingrykheid en goeie oordeel – laat dit nie aan jou oë ontglip nie; hou daarby. Dit sal lewe wees vir jou wese, 'n sieraad vir jou nek. Dan sal jy veilig loop op jou pad; jou voet sal jy nie stamp nie. As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie. Want die HERE sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap. Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie. Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie. Moenie teen jou medemens kwaad smee, terwyl hy in goeie trou by jou woon nie. Moenie onnodig 'n saak teen iemand begin, as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Moenie iemand wat geweld gebruik, beny nie, en moenie enige van sy paaie kies nie; want vir die HERE is iemand wat die spoor byster raak, afstootlik – maar opregtes geniet sy vertroue. Die HERE se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy. Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade. Eer is wat wyses as erfdeel ontvang, maar dwase, dié verhoog Hy tot skande.

SPREUKE 3:13-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Gelukkig is die mens wat wysheid vind, en die mens wat verstand verkry. Want die handelsware daarvan is beter as die handelsware van silwer, en die wins daarvan as fyn goud. Sy is kosbaarder as robyne, en alles wat jy kan begeer, is nie met haar vergelykbaar nie. Lengte van dae is in haar regterhand; en in haar linkerhand rykdom en eer. Haar weë is weë van plesier, en al haar paaie is vrede. Sy is 'n boom van die lewe vir die wat haar aangryp, en gelukkig is elkeen wat haar vashou. Die HERE het die aarde deur wysheid gegrond; deur verstand het Hy die hemele bevestig. Deur sy kennis word die dieptes opgebreek, en die wolke laat dou waai. My seun, laat hulle nie van jou oë afwyk nie; bewaar gesonde wysheid en oorleg. So sal hulle lewe vir jou siel wees en genade vir jou nek. Dan sal jy veilig in jou weg wandel, en jou voet sal nie struikel nie. As jy gaan lê, moet jy nie bang wees nie; ja, jy sal gaan lê, en jou slaap sal soet wees. Moenie bang wees vir skielike vrees, of vir die verwoesting van die goddelose as dit kom nie. Want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar om nie gevang te word nie. Weerhou die goeie nie terug van hulle aan wie dit toekom as dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, en môre sal ek gee; wanneer jy dit by jou het. Bedink geen kwaad teen jou naaste nie, want hy woon veilig by jou. Moenie sonder oorsaak met 'n man twis as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Beny die verdrukker nie en kies nie een van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy geheim is by die regverdiges. Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. Waarlik, Hy spot die spotters, maar aan die geringes gee Hy genade. Die wyse sal heerlikheid beërwe, maar skande sal die bevordering van die dwase wees.

SPREUKE 3:13-35 Die Boodskap (DB)

Iemand wat elke dag reg leef en met insig optree, se lewe is vol geluk. Die blydskap wat uit ’n wyse lewe straal, is baie kosbaar. Dit is baie meer werd as al die banke se geld en al die myne se goud, baie meer as die allerkosbaarste dinge wat jy graag wil hê. Nog ’n voordeel van ’n wyse manier van leef, is ’n lang lewe vol rykdom en eer. Dit bring baie aangename dinge. Dit bring vrede binne-in jou. Wysheid is soos ’n boom. Wie daaronder skuil, vind vreugde. Wysheid is die belangrikste in die lewe. Selfs God het alles met wysheid geskep. Met wysheid het God die aarde gemaak en die hemele met insig aanmekaargesit. Sy kennis het fonteine uit die dieptes laat opspring en het wolke reën gegee. Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen. Dié twee sal jou gelukkig maak. Hulle sal jou lewe versier. Dan sal jy ook veilig en beskut voel. Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees. Moenie vir ’n skielike krisis of ramp skrik nie. Dikwels is dit net bedoel vir slegte mense wat nie die Here liefhet nie. Jy weet mos die Here is altyd by jou. Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal jou beskerm. Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie. Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie. Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie. Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie. Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie. ’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend. Met ’n goddelose mens se familie gaan dit sleg, terwyl die Here iemand wat wys leef se huis met voorspoed, geluk en kinders oorlaai. Met hulle wat baie van hulleself dink, spot die Here. Hy lag lekker vir hulle. Hulle wat egter nederig is en uit sy hand leef, het Hy oneindig lief. Wyses ontvang in hierdie lewe eer terwyl dommes verneder word.

SPREUKE 3:13-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die mens wat wysheid kry, is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry. Wysheid het meer voordele as geld. Haar beloning is meer werd as goud. Wysheid het meer waarde as edelstene. Niks wat jy ooit kan begeer, vergelyk daarmee nie. Met die een hand gee wysheid ’n lang lewe. Met die ander hand rykdom en eer. Wysheid maak ’n mens gelukkig. Wie dit volg, beleef vrede. Vir dié wat daaraan vashou, is dit ’n boom van die lewe. Hulle wat daarop steun, is geseënd. Die HERE het die aarde met wysheid op sy plek neergesit, met insig die hemel oopgespan. Deur sy kennis het water uit die diep fonteine geborrel en het daar reën uit die wolke geval. My seun, moenie takt en oorleg uit die oog verloor nie. Hou altyd daaraan vas. Dit sal jou lewe verryk en eer en agting vir jou bring. Jou pad sal veilig wees. Jy sal nie struikel nie. Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap. Jy hoef nie bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie. Die rampe vir slegte mense bedoel, sal nie oor jou kom nie. Die HERE is jou beskermer. Hy sal sorg dat jy nie in ’n strik trap nie. Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen. Moenie vir jou buurman sê: “Gaan nou weg en kom môre weer, dan sal ek jou help,” terwyl jy dit nou al kon gedoen het nie. Moenie ’n plan beraam teen iemand wat vol vertroue by jou woon nie. Moenie sommer rusie soek met iemand wat jou nie kwaad aangedoen het nie. Moenie jaloers wees op iemand wat geweld gebruik nie. Moenie ook maak soos hy nie. Die HERE het ’n afkeer aan skelms, maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue. Die vloek van die HERE rus op die huis van die goddelose, maar hulle wat opreg lewe, seën Hy. Hy dryf die spot met mense wat ander spot. Hy is goed vir hulle wat nederig is. Wyse mense word vereer. Dwase mense kom in die skande.