Spreuke 3:13-35

Spreuke 3:13-35 AFR20

Hoe gelukkig is 'n mens wat wysheid vind, en 'n mens wat verstandigheid verkry! Ja, die wins wat wysheid lewer, is meer as dié van silwer, meer as dié van goud is haar opbrengs. Sy is kosbaarder as koraal; niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie. 'n Lang lewe is in haar regterhand, en in haar linkerhand, rykdom en eer. Haar weë is aangename weë, en al haar paaie is vrede. 'n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem. Die HERE self het die aarde gegrondves met wysheid, die hemel gevestig met verstand. Deur sy kennis is die •oerwaters gekloof en drup die wolke dou. My seun, vindingrykheid en goeie oordeel – laat dit nie aan jou oë ontglip nie; hou daarby. Dit sal lewe wees vir jou wese, 'n sieraad vir jou nek. Dan sal jy veilig loop op jou pad; jou voet sal jy nie stamp nie. As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie. Want die HERE sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap. Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie. Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie. Moenie teen jou medemens kwaad smee, terwyl hy in goeie trou by jou woon nie. Moenie onnodig 'n saak teen iemand begin, as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Moenie iemand wat geweld gebruik, beny nie, en moenie enige van sy paaie kies nie; want vir die HERE is iemand wat die spoor byster raak, afstootlik – maar opregtes geniet sy vertroue. Die HERE se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy. Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade. Eer is wat wyses as erfdeel ontvang, maar dwase, dié verhoog Hy tot skande.