Spreuke 3:13-35

Spreuke 3:13-35 ABA

Dit gaan goed met die mens wat wysheid gekry het, met die mens wat verstandig geword het, want om wysheid te kry, is beter as om silwer en goud te kry. Wysheid is meer kosbaar as koraal. Baie dinge is vir jou kosbaar, maar niks is so kosbaar soos die wysheid nie. Die wysheid gee vir jou 'n lang lewe. Jy sal ook ryk word, en mense sal jou respekteer. Iemand wat wysheid het, geniet die lewe, en dit gaan goed met hom. Wysheid is soos 'n boom. As jy vashou aan die wysheid, dan hou jy vas aan 'n boom wat lewe gee. Die mens wat aan die wysheid vashou, is 'n gelukkige mens. Die Here het wysheid en verstand, Hy het die aarde en die hemel gemaak. Hy het geweet wat om te doen, Hy het fonteine uit die diep water laat stroom en Hy het die wolke vol water gemaak. My kind, jy moet met ware wysheid lewe, jy moenie ophou om verstandig te wees nie. As jy met wysheid lewe, dan sal jy 'n lang en 'n mooi lewe hê. Dan sal jy veilig loop op jou pad deur die lewe en jy sal nie jou tone stamp nie. Jy sal dan nie bang wees om te gaan slaap nie, jy sal gaan lê en jy sal lekker slaap. Jy moenie bang wees dat dit skielik sleg sal gaan met jou nie. Wanneer die stormwinde begin waai oor die mense wat verkeerd doen, dan moet jy nie bang wees dat hulle ook oor jou sal waai nie. Want die Here sal by jou wees, Hy sal keer dat jou voet nie vassit in 'n vangstrik nie. Wanneer jy iemand moet help en jy kan dit doen, dan moet jy nie wag nie. As jy dadelik kan help, dan moet jy dit doen. Jy moenie sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan sal ek jou help” nie. Wanneer iemand naby jou is en hy voel veilig, dan moet jy nie sit en dink wat jy kan doen sodat dit sleg kan gaan met hom nie. Wanneer iemand onskuldig is en hy het niks sleg gedoen aan jou nie, dan moet jy nie sê dat hy skuldig is nie. Jy moenie probeer om te wees soos iemand wat ander mense altyd wil seermaak en doodmaak nie. Want die Here haat slegte mense, maar mense wat reg lewe, is sy vriende. Die Here vervloek die huisgesin van die mens wat verkeerd doen, maar Hy seën die huisgesin van die mens wat reg lewe. Wanneer mense dink dat hulle vir ander mense kan spot, dan spot die Here vir húlle. Wanneer mense weet dat hulle nie hulleself kan help nie, dan is die Here goed vir hulle. Wanneer iemand wysheid het, dan sal mense hom respekteer, maar mense wat dwaas is, sal meer en meer dinge doen waarvan mense nie hou nie.