SPREUKE 13:13-25

SPREUKE 13:13-25 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer 'n persoon nie wil doen wat 'n wyse mens vir hom leer nie, dan sal hy arm word en hy sal iemand se slaaf moet word, maar wanneer hy doen wat 'n wyse mens vir hom sê, dan sal hy 'n beloning kry. Die dinge wat 'n wyse mens vir jou leer, laat jou lewe, dit keer sodat die dood jou nie in sy vangstrik vang nie. Mense sal van jou hou as jy verstandig is, mense wat ontrou is, se planne sal nie slaag nie. Elke slim mens weet hoe om dinge te doen, maar 'n dwaas hou aan om te wys hoe dom hy is. Dit sal sleg gaan met 'n boodskapper wat 'n verkeerde boodskap bring, maar 'n mens wat sy boodskap reg bring, laat dit beter gaan met mense. 'n Mens wat nie wil doen wat 'n wyse mens vir hom leer nie, word arm, en niemand respekteer hom nie, maar mense respekteer iemand wat onthou wat 'n wyse mens vir hom sê. Dit is lekker om iets te kry wat jy graag wil hê. Dwase haat dit om op te hou om slegte dinge te doen. Wanneer jy saam met wyse mense lewe, dan kry jy self wysheid, wanneer jy vir dwase mense wil sorg, dan word jy ook sleg. Dit gaan altyd sleg met sondaars, maar dit gaan goed met mense wat reg lewe. 'n Goeie mens se kleinkinders kry sy goed wanneer hy sterf, maar die rykdom wat 'n sondaar bêre, gaan na iemand anders. Iemand wat reg lewe, kry dit. Wanneer arm mense hulle koringlande die eerste maal geploeg het, dan sal daar baie kos vir hulle op die lande wees, maar hulle verloor al die kos wanneer ander mense nie reg wil doen aan hulle nie. Wanneer iemand nie sy kind straf nie, dan is hy nie lief vir sy kind nie, as hy lief is vir sy kind, dan sal hy vir die kind reg leer. Mense wat reg lewe, het meer as genoeg kos om te eet, mense wat verkeerd doen, bly altyd honger.

SPREUKE 13:13-25 Die Boodskap (DB)

Wie die Here se woord verwerp, vernietig homself. Wie dit sy eie maak, is ’n gelukkige mens. Mense wat die lewe ken, kan jou baie leer. Hulle lewenswysheid is ’n onuitputlike bron van kennis. Wie dit sy eie maak, word baie ellende gespaar. Lewenswysheid maak dat almal van jou hou. Ongelowiges gaan onder. ’n Slim mens dink voordat hy iets doen. ’n Dom mens weet nie wat hy doen nie. Almal sien en hoor hoe dwaas hy is. ’n Slegte boodskapper vergeet maklik wat hy moet sê. Mense word dan baie kwaad vir hom. ’n Goeie boodskapper se woorde maak mense gelukkig. Wie hom nie steur aan die voorskrifte vir ’n gelukkige lewe nie, word gou arm. Skande op skande is sy lot. Diegene wat na goeie raad luister, word deur ander gerespekteer. Dit is lekker as ons ons ideale bereik. Slegte mense bereik niks nie, want hulle sukkel om hulle verkeerde dade te los. Wie dikwels in die geselskap van gelowiges is, leer self ook met die tyd om reg op te tree. Wie altyd net met ligsinniges en ongelowiges meng se lewe is leeg. Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed. Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het. Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is. ’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek.