Spreuke 13:13-25

Spreuke 13:13-25 AFR20

Wie 'n opdrag met minagting bejeën – van hom word 'n pand geneem, maar wie 'n bevel eerbiedig, hy sal vergoed word. Die onderrig van 'n wyse is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. Goeie begrip wen guns, maar die pad van verraderlike mense is onveranderlik. Elke slim mens tree met oorleg op, maar 'n dwaas sprei sy sotheid oop. 'n Goddelose boodskapper stort self in die ongeluk, maar 'n betroubare gesant is 'n gerusstelling. Armoede en skande lê voor vir wie vermaning in die wind slaan, maar wie op teregwysing ag slaan, word geëer. 'n Wens wat waar word, is soet vir die siel, maar dit is afstootlik vir dwase om van die kwaad weg te bly. Wie met wyses saamgaan, sal wys word, maar wie met dwase meng, word benadeel. Onheil agtervolg sondaars, maar regverdiges word deur die goeie beloon. 'n Goeie mens laat sy kleinkinders erf, maar 'n sondaar se eiendom word vir 'n regverdige weggebêre. Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg. Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf. 'n Regverdige eet tot sy honger gestil is, maar die maag van goddeloses bly leeg.