Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk. Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood vermy. Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid; die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging. Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen; wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander. 'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid; 'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg. Armoede en vernedering wag vir iemand wat hom nie wil laat leer nie, wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer. 'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde. Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy. Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg. Teenspoed volg die sondaars op hulle pad; die regverdige word met voorspoed vergoed. 'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders; die besittings van die sondaar kom in die hande van die regverdige. Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af weggevat. Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is. Die regverdige het meer as genoeg om te eet; goddelose mense bly honger.
Lees SPREUKE 13
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: SPREUKE 13:13-25
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's