Wanneer 'n persoon nie wil doen
wat 'n wyse mens vir hom leer nie,
dan sal hy arm word
en hy sal iemand se slaaf moet word,
maar wanneer hy doen wat 'n wyse mens vir hom sê,
dan sal hy 'n beloning kry.
Die dinge wat 'n wyse mens vir jou leer,
laat jou lewe, dit keer sodat die dood
jou nie in sy vangstrik vang nie.
Mense sal van jou hou as jy verstandig is,
mense wat ontrou is, se planne sal nie slaag nie.
Elke slim mens weet hoe om dinge te doen,
maar 'n dwaas hou aan om te wys
hoe dom hy is.
Dit sal sleg gaan met 'n boodskapper
wat 'n verkeerde boodskap bring,
maar 'n mens wat sy boodskap reg bring,
laat dit beter gaan met mense.
'n Mens wat nie wil doen
wat 'n wyse mens vir hom leer nie,
word arm, en niemand respekteer hom nie,
maar mense respekteer iemand wat onthou
wat 'n wyse mens vir hom sê.
Dit is lekker om iets te kry wat jy graag wil hê.
Dwase haat dit om op te hou om slegte dinge te doen.
Wanneer jy saam met wyse mense lewe,
dan kry jy self wysheid,
wanneer jy vir dwase mense wil sorg,
dan word jy ook sleg.
Dit gaan altyd sleg met sondaars,
maar dit gaan goed met mense wat reg lewe.
'n Goeie mens se kleinkinders
kry sy goed wanneer hy sterf,
maar die rykdom wat 'n sondaar bêre,
gaan na iemand anders.
Iemand wat reg lewe, kry dit.
Wanneer arm mense hulle koringlande
die eerste maal geploeg het,
dan sal daar baie kos vir hulle op die lande wees,
maar hulle verloor al die kos wanneer ander mense
nie reg wil doen aan hulle nie.
Wanneer iemand nie sy kind straf nie,
dan is hy nie lief vir sy kind nie,
as hy lief is vir sy kind, dan sal hy vir die kind reg leer.
Mense wat reg lewe,
het meer as genoeg kos om te eet,
mense wat verkeerd doen, bly altyd honger.