NUMERI 21:1-9

NUMERI 21:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en 'n aantal van hulle gevange geneem. Israel het 'n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.” Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem. Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.” Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid, en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.” Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

NUMERI 21:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev regeer het, hoor dat Israel in die rigting van Atarim kom, het hy teen Israel gaan veg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer. Israel het toe aan die HERE 'n gelofte afgelê en gesê: “As U hierdie volk ten volle in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. ” Die HERE het na die versoek van Israel geluister en die Kanaäniete aan hulle oorgegee. Israel het hulle en hulle stede met die banvloek getref en die plek Gorma genoem. Die Israeliete het van die berg Hor af weggetrek met die pad na die Rietsee om rondom die land Edom te trek. Maar op pad het die volk ongeduldig geraak. Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos.” Die HERE het toe giftige slange onder die volk ingestuur en hulle het die volk gepik. Baie mense van die volk Israel het gesterf. Die volk het na Moses gekom en gesê: “Ons het gesondig, want ons het teen die HERE en teen jou uitgevaar. Bid tot die HERE dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid. Die HERE het vir Moses gesê: “Maak vir jou 'n slang en sit dit op 'n paal, dan sal elkeen wat gepik is en daarna kyk, bly leef.” Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. Wanneer 'n slang iemand pik, en hy kyk na die koperslang, het hy bly leef.

NUMERI 21:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Die koning van Arad, 'n Kanaäniet, het in die Suid-land gewoon. Toe hy hoor dat die Israeliete aankom op die pad na Atarim, het hy oorlog gemaak teen hulle, en party van hulle het sy gevangenes geword. Die Israeliete het 'n gelofte gemaak. Hulle het aan die Here belowe en gesê: “As U ons laat wen teen hierdie mense, dan sal ons hulle stede heeltemal verwoes.” Die Here het gedoen wat die Israeliete gevra het, Hy het hulle laat wen teen die Kanaäniete. Die Israeliete het die Kanaäniete almal doodgemaak en hulle stede heeltemal verwoes. Hulle het daardie plek toe Gorma genoem. Die Israeliete het van Hor-berg verder gegaan op die pad na die Riet-see. Hulle wou óm die land Edom gaan. Maar die mense het moeg geword op die pad en hulle het teen God en Moses gepraat en gekla. Hulle het gesê: “Hoekom het julle ons uit Egipte gebring om in die woestyn te sterf? Want hier is nie kos en water nie, en ons is moeg vir hierdie slegte kos.” Toe het die Here slange gestuur wat vlerke het. Die slange het die mense gepik, en baie Israeliete het gesterf. Die mense het na Moses toe gekom en gesê: “Ons het sonde gedoen, want ons het teen die Here en teen jou gepraat. Jy moet tot die Here bid en jy moet vra dat Hy die slange moet wegneem van ons.” Moses het toe gebid soos die volk gevra het, en die Here het vir hom gesê: “Jy moet 'n slang maak wat vlerke het en jy moet die slang vasmaak aan 'n vlagpaal. As 'n slang iemand gepik het, dan moet daardie persoon na die slang op die paal kyk, en dan sal die persoon nie sterf nie.” Moses het 'n slang van brons gemaak en hy het die slang vasgemaak aan 'n vlagpaal. Wanneer 'n slang iemand gepik het, en die persoon kyk na die slang van brons, dan het hy nie gesterf nie.

NUMERI 21:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe koning Arad, die Kanaäniet, wat in die suide gewoon het, hoor dat Israel op die pad van die spioene gekom het; toe het hy teen Israel geveg en sommige van hulle gevange geneem. En Israel het 'n gelofte aan die HERE gedoen en gesê: As U hierdie volk werklik in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. En die HERE het na die stem van Israel geluister en die Kanaäniete oorgegee; en hulle het hulle en hulle stede met die banvloek getref, en hy het die plek Horma genoem. En hulle het van die berg Hor af weggetrek met die pad na die Skelfsee, om die land Edom te omsingel, en die siel van die volk was baie moedeloos vanweë die pad. En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? want daar is geen brood en geen water nie; en ons siel verafsku hierdie ligte brood. En die HERE het vuurslange onder die volk gestuur, en hulle het die volk gebyt; en baie mense van Israel het gesterf. Daarom het die volk na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig, want ons het teen die HERE en teen jou gespreek; bid tot die HERE dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. Toe sê die HERE vir Moses: Maak vir jou 'n vurige slang en sit dit op 'n paal; en elkeen wat gebyt word, sal lewe as hy daarna kyk. En Moses het 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit, en as 'n slang iemand gebyt het, het hy gelewe toe hy die koperslang sien.

NUMERI 21:1-9 Die Boodskap (DB)

Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die suide van Kanaän gebly het, hoor dat die Israeliete in die rigting van Atarim trek, het hy hulle aangeval en party van hulle gevang en ontvoer. Die Israeliete het toe hierdie belofte voor die Here gemaak: “As U ons help om hierdie mense te wen, sal ons al hulle stede heeltemal vernietig en dit aan U gee as ’n offer omdat U ons ’n oorwinning gegee het.” Die Here het hulle gebed verhoor en hulle gehelp om die Kanaäniete te verslaan. Soos hulle belowe het, het hulle al die stede heeltemal verwoes en almal doodgemaak wat daarin gebly het. Hulle het toe die plek Gorma, “plek van verwoesting”, genoem. Omdat die Israeliete nie deur Edom kon trek nie, het hulle van die berg Hor af die pad in die rigting van die Rietsee gevolg. Langs die pad het die volk weer ongeduldig geword en teen God en Moses begin uitvaar: “Hoekom het julle ons uit Egipte uit laat trek net om in hierdie woestyn dood te gaan? Hier is nie behoorlike kos of water nie. Ons is nou al siek en sat vir hierdie walglike kos!” Toe stuur die Here giftige slange onder die volk in. Die slange het hulle gepik en baie van hulle is dood. Die volk het toe by Moses gaan bely: “Ons erken dat ons sonde gedoen het toe ons teen jou en die Here uitgevaar het. Tree tog vir ons in en vra die Here om hierdie slange weg te vat.” Toe bid Moses vir die volk. Hierop het die Here vir hom gesê: “Maak ’n afbeelding uit koper van so ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal en laat die paal regop staan. As iemand deur ’n slang gepik word en opkyk na daardie koperslang, sal hy bly leef.” Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. Elkeen wat deur ’n slang gepik is en opgekyk het na die koperslang, het bly leef.