Numeri 21:1-9

Numeri 21:1-9 ABA

Die koning van Arad, 'n Kanaäniet, het in die Suid-land gewoon. Toe hy hoor dat die Israeliete aankom op die pad na Atarim, het hy oorlog gemaak teen hulle, en party van hulle het sy gevangenes geword. Die Israeliete het 'n gelofte gemaak. Hulle het aan die Here belowe en gesê: “As U ons laat wen teen hierdie mense, dan sal ons hulle stede heeltemal verwoes.” Die Here het gedoen wat die Israeliete gevra het, Hy het hulle laat wen teen die Kanaäniete. Die Israeliete het die Kanaäniete almal doodgemaak en hulle stede heeltemal verwoes. Hulle het daardie plek toe Gorma genoem. Die Israeliete het van Hor-berg verder gegaan op die pad na die Riet-see. Hulle wou óm die land Edom gaan. Maar die mense het moeg geword op die pad en hulle het teen God en Moses gepraat en gekla. Hulle het gesê: “Hoekom het julle ons uit Egipte gebring om in die woestyn te sterf? Want hier is nie kos en water nie, en ons is moeg vir hierdie slegte kos.” Toe het die Here slange gestuur wat vlerke het. Die slange het die mense gepik, en baie Israeliete het gesterf. Die mense het na Moses toe gekom en gesê: “Ons het sonde gedoen, want ons het teen die Here en teen jou gepraat. Jy moet tot die Here bid en jy moet vra dat Hy die slange moet wegneem van ons.” Moses het toe gebid soos die volk gevra het, en die Here het vir hom gesê: “Jy moet 'n slang maak wat vlerke het en jy moet die slang vasmaak aan 'n vlagpaal. As 'n slang iemand gepik het, dan moet daardie persoon na die slang op die paal kyk, en dan sal die persoon nie sterf nie.” Moses het 'n slang van brons gemaak en hy het die slang vasgemaak aan 'n vlagpaal. Wanneer 'n slang iemand gepik het, en die persoon kyk na die slang van brons, dan het hy nie gesterf nie.

Video for Numeri 21:1-9