NUMERI 21:1-9

NUMERI 21:1-9 NLV

Die Kanaänitiese koning van Arad het in die Negevwoestyn gewoon. Hy het gehoor dat die Israeliete in aantog was met die pad wat na Atarim loop. Hy het teen Israel geveg en van hulle mense gevange geneem. Die Israeliete het toe ’n gelofte aan God gedoen: “As U ons help om hierdie volk te oorwin, sal ons hulle stede uitwis.” Die HERE het Israel se gebed verhoor. Hulle het die stede met die grond gelyk gemaak en die plek Gorma genoem. Hulle is van Gorma af weg met die pad na die Rietsee toe om by Edom verby te kom. Langs die pad het hulle ongeduldig begin word. Die volk het teenoor die HERE en Moses begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!” Die HERE het toe giftige slange onder die volk gestuur. Hulle het die volk gepik. Baie uit Israel is daarvan dood. Hulle het na Moses toe gekom en by hom bely: “Ons het ’n fout gemaak met wat ons teen jou en die HERE gesê het. Bid tog vir die HERE dat Hy die giftige slange van ons af sal wegvat.” Moses het toe namens die volk tot God gebid. Die HERE het vir Moses gesê: “Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.” Moses het toe ’n slang van brons gemaak en dit bo-op ’n paal gesit. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en hy het bly leef.

Video for NUMERI 21:1-9