Numeri 21:1-9

Numeri 21:1-9 AFR20

Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev regeer het, hoor dat Israel in die rigting van Atarim kom, het hy teen Israel gaan veg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer. Israel het toe aan die HERE 'n gelofte afgelê en gesê: “As U hierdie volk ten volle in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. ” Die HERE het na die versoek van Israel geluister en die Kanaäniete aan hulle oorgegee. Israel het hulle en hulle stede met die banvloek getref en die plek Gorma genoem. Die Israeliete het van die berg Hor af weggetrek met die pad na die Rietsee om rondom die land Edom te trek. Maar op pad het die volk ongeduldig geraak. Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos.” Die HERE het toe giftige slange onder die volk ingestuur en hulle het die volk gepik. Baie mense van die volk Israel het gesterf. Die volk het na Moses gekom en gesê: “Ons het gesondig, want ons het teen die HERE en teen jou uitgevaar. Bid tot die HERE dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid. Die HERE het vir Moses gesê: “Maak vir jou 'n slang en sit dit op 'n paal, dan sal elkeen wat gepik is en daarna kyk, bly leef.” Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. Wanneer 'n slang iemand pik, en hy kyk na die koperslang, het hy bly leef.

Video for Numeri 21:1-9