LUKAS 13:1-17

LUKAS 13:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omtrent hierdie tyd is Jesus meegedeel dat Pilatus ’n aantal mense van Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het by die tempel in Jerusalem. “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het? Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom. En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem? Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.” Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld. Uiteindelik het hy vir sy tuinier gesê: ‘Kyk, ek kom soek nou al drie jaar lank vrugte aan hierdie boom en kry niks nie. Haal hom uit! Hoekom moet hy die grond nog langer uitput?’ “Die tuinier het geantwoord: ‘Meneer, gee hom nog een kans. Los hom nog ’n jaar, en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting. As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’” Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het, het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!” Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie! Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het. “Daar is ses dae van die week om te werk,” het hy vir die skare gesê. “Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.” Maar die Here antwoord hom: “Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie? Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?” Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.

LUKAS 13:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus vir die mense gesê het dit is belangrik dat hulle moet lewe soos God wil hê, het party van hulle vir Hom vertel dat Pilatus 'n klomp mense in Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het vir God. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom het hierdie mense van Galilea so wreed gesterf? Dink julle hulle het meer sonde gedoen as al die ander mense in Galilea? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer sonde gedoen as die ander mense nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf. En onthou julle daardie 18 mense wat almal gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Dink julle hulle het meer verkeerd gedoen as al die ander mense wat in Jerusalem woon? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer verkeerd gedoen nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd gegroei het. Hy het gaan kyk of daar vye aan die boom is maar hy het niks vye gekry nie. Die man sê toe vir die man wat in die wingerd werk: ‘Dit is nou die derde jaar dat ek kom kyk of daar vye aan die boom is, maar elke jaar kry ek niks. Jy moet nou hierdie vyeboom uitkap, want dit maak net die grond droog.’ Toe sê die man wat in die wingerd werk: ‘Meneer, laat die vyeboom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom die boom omspit en ek sal dit mis gee. En as die boom volgende jaar vye dra, dan is dit goed. Maar as daar weer niks vye is nie, dan kan jy die boom uitkap.’ ” Jesus was op die Sabbatdag besig om die mense te leer in die sinagoge. Daar was 'n vrou wat gebreklik was, 'n onrein gees het haar 18 jaar lank gebreklik gemaak. Sy het krom geloop en sy kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, het Hy haar geroep en vir haar gesê: “Mevrou, God maak jou gesond.” Toe sit Jesus sy hande op haar, en sy het dadelik regop geloop en begin om God te prys. Die leier van die sinagoge was baie ontevrede omdat Jesus iemand op die Sabbatdag gesond gemaak het. Die leier het vir die mense gesê: “Daar is ses dae wanneer 'n mens moet werk. Julle kan op daardie dae kom as julle gesond wil word. Julle moenie op die Sabbatdag kom nie.” Maar die Here het vir hom gesê: “Julle is skynheilig. Elkeen van julle maak op die Sabbatdag sy bees of donkie los waar hy by die krip staan en vreet, en julle lei hom weg sodat hy kan water drink. Dit is dieselfde met hierdie vrou. Sy is een van ons, 'n Israeliet. En onthou, die Satan het haar 18 jaar lank vasgebind. Is dit dan verkeerd om haar op die Sabbatdag los te maak?” Toe Jesus dit sê, het sy vyande nie geweet wat om te antwoord nie. Maar al die ander mense was baie bly oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.

LUKAS 13:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het — dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. EN Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap. EN Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer. En daar was 'n vrou wat 'n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos. En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik. Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop 'n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie. Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is, wat die Satan — dink daaraan! — agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie? En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.

LUKAS 13:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag. Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom! Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.” Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.” Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!” Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys. Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.” Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?” Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

LUKAS 13:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed •Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. ” Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ” Op die Sabbat het Hy in een van die •sinagoges onderrig gegee. En kyk, daar was 'n vrou wat al agttien jaar lank gely het onder 'n gees wat haar siek gemaak het. Sy was kromgetrek, en kon glad nie regop kom nie. Toe Jesus haar sien, het Hy haar nader geroep en vir haar gesê: “Mevrou, jy is van jou siekte verlos.” Daarna het Hy sy hande op haar gelê, en sy het dadelik regop gekom en God geloof. Maar die leier van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus iemand op die Sabbat gesond gemaak het, en hy het vir die skare gesê: “Daar is ses dae waarop 'n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” Maar die Here het hom geantwoord: “Skynheiliges! Maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy os of sy donkie los van die krip en lei hom uit om te drink nie? En hierdie vrou, 'n dogter van Abraham, vir wie Satan al agttien jaar lank gevange hou, moes sy dan nie op die Sabbat van hierdie boeie verlos word nie?” Toe Hy dit gesê het, het al sy teenstanders beskaamd gestaan, maar die hele skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat deur Hom verrig is.

LUKAS 13:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was in daardie tyd sommige teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galileërs sondaars was bo al die Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Ek sê vir julle: Nee, maar as julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agtien op wie die toring in Siloam geval en hulle gedood het, dink julle dat hulle sondaars was bo al die mense wat in Jerusalem gewoon het? Ek sê vir julle: Nee, maar as julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Hy het ook hierdie gelykenis vertel; 'n Sekere man het 'n vyeboom in sy wingerd laat plant; en hy het gekom en vrugte daarop gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinmaker van sy wingerd: Kyk, hierdie drie jaar kom ek en soek vrugte aan hierdie vyeboom, maar kry niks nie; kap dit af; waarom lê dit die grond toe? En hy antwoord en sê vir hom: Here, laat dit ook hierdie jaar staan, totdat ek daaroor sal grawe en dit mis. En as dit vrug dra, wel; en so nie, dan moet jy dit daarna afkap. En hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer. En kyk, daar was 'n vrou wat agtien jaar lank 'n gees van krankheid gehad het, en wat saam gebuig was en haarself glad nie kon oprig nie. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar na hom en sê vir haar: Vrou, jy is verlos van jou krankheid. En hy het haar die hande opgelê, en dadelik het sy regop gestaan en God verheerlik. En die owerste van die sinagoge het verontwaardig geantwoord, omdat Jesus op die sabbatdag genees het, en aan die volk gesê: Daar is ses dae waarin die mens moet werk; kom dan in hulle en word gesond, en nie op die sabbat dag. Die Here het hom toe geantwoord en gesê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy bees of sy esel van die stal los en lei hom weg om te water nie? En moet hierdie vrou, wat 'n dogter van Abraham is, wat Satan gebind het, kyk, hierdie agtien jaar, nie op die sabbatdag van hierdie band verlos word nie? En toe Hy dit gesê het, was al sy teëstanders beskaamd, en die hele volk was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gedoen is.

LUKAS 13:1-17 Die Boodskap (DB)

Die mense het vir Jesus kom vertel van ’n verskriklike ding wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, aangevang het. Hy het ’n klomp mense uit Galilea doodgemaak terwyl hulle in Jerusalem ’n offer aan die Here wou bring. “Dié mense moes seker groot sondaars gewees het. Dis hoekom God dit met hulle laat gebeur het,” het hulle tussendeur bygevoeg. “Dink julle regtig daardie mense was groter sondaars as al die ander mense wat in Galilea bly?” het Jesus dadelik gevra. “Wel, as julle so dink, is julle verkeerd. Maar wag, julle spekuleer so lekker oor ander mense se sondes. Kyk eerder ’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Anders is julle binnekort dood, net soos daardie Galileërs, en dan is dit vir altyd te laat. “Julle het dalk ook die nuus gehoor van die Siloamtoring wat in Jerusalem omgeval het. Agtien mense is in daardie ramp dood. Nou sal julle seker ook sê dat hulle groter sondaars was as al die ander inwoners van Jerusalem. Daarom het God hulle nou teruggekry. Ek sê weer ’n keer: God werk nie so nie. Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat om julle saak met God reg te maak.” Daarna het Jesus vir die mense ’n verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat baie vyebome gehad het. Soos gewoonlik het hy elke jaar kom kyk hoe sy bome dra. Maar daar was een boom wat jaar na jaar nie ’n enkele vy aan gehad het nie. Hy sê toe vir sy tuinier wat die bome moes versorg: ‘Kyk, dis nou al drie jaar dat hierdie boom nie vye dra nie. Kap hom uit! Dit put net die grond uit. Kom ons plant liewer ’n ander boom in sy plek.’ “Toe sê die tuinier: ‘Ag, Meneer, kan ons nie maar nog ’n keer probeer nie? Kom ons gee die boom nog ’n jaar kans. Ek sal sorg dat hy hierdie jaar die beste bemesting en genoeg water kry. Dan behoort hy volgende jaar vrugte te dra. So nie, as al my harde werk nie help nie, kan u die boom maar uitkap.’” Kort daarna het Jesus een sabbatdag na ’n Joodse sinagoge toe gegaan om die mense daar te leer wat God van hulle vra. Daar was ook ’n vrou in die skare wat al agtien jaar lank baie siek was. Haar hele liggaam was inmekaargetrek. Sy kon nie normaal loop nie. Toe Jesus haar raaksien, het Hy haar jammer gekry en dadelik vir haar gesê: “Ek het baie goeie nuus vir jou: van hierdie oomblik af is jy heeltemal gesond.” Toe Jesus sy hand op haar sit, het sy dadelik regop gestaan. Sy was so bly dat sy God se Naam grootgemaak het. Maar die hoof van die sinagoge was baie kwaad omdat Jesus iemand op die sabbatdag gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense wat hierdie wonderwerk aanskou het: “Kyk, daar is ses dae waarop ’n mens kan werk. Op daardie dae kan siekes gesond gemaak word. Maar definitief nie op die sabbat nie. Dié man het hier voor ons oë die sabbat oortree.” “Julle skynheiliges!” het Jesus dadelik teruggekap. “Gee julle nie op die sabbat vir julle diere kos en water nie? Tel dit nie as werk nie? Ek het vandag ’n Israelitiese vrou verlos wat agtien jaar lank deur die duiwel gekasty is. Na al die jare van swaarkry is sy uiteindelik vry. Is dit nie gepas dat sy juis op God se rusdag self ware rus moes vind nie?” Die ander godsdienstige leiers wat ook vir Jesus kwaad was, het skaam gekry toe hulle hoor wat Hy sê. Maar die res van die mense was oorstelp van vreugde oor alles wat Jesus gedoen het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid