Lukas 13:1-17

Lukas 13:1-17 DB

Die mense het vir Jesus kom vertel van ’n verskriklike ding wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, aangevang het. Hy het ’n klomp mense uit Galilea doodgemaak terwyl hulle in Jerusalem ’n offer aan die Here wou bring. “Dié mense moes seker groot sondaars gewees het. Dis hoekom God dit met hulle laat gebeur het,” het hulle tussendeur bygevoeg. “Dink julle regtig daardie mense was groter sondaars as al die ander mense wat in Galilea bly?” het Jesus dadelik gevra. “Wel, as julle so dink, is julle verkeerd. Maar wag, julle spekuleer so lekker oor ander mense se sondes. Kyk eerder ’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Anders is julle binnekort dood, net soos daardie Galileërs, en dan is dit vir altyd te laat. “Julle het dalk ook die nuus gehoor van die Siloamtoring wat in Jerusalem omgeval het. Agtien mense is in daardie ramp dood. Nou sal julle seker ook sê dat hulle groter sondaars was as al die ander inwoners van Jerusalem. Daarom het God hulle nou teruggekry. Ek sê weer ’n keer: God werk nie so nie. Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat om julle saak met God reg te maak.” Daarna het Jesus vir die mense ’n verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat baie vyebome gehad het. Soos gewoonlik het hy elke jaar kom kyk hoe sy bome dra. Maar daar was een boom wat jaar na jaar nie ’n enkele vy aan gehad het nie. Hy sê toe vir sy tuinier wat die bome moes versorg: ‘Kyk, dis nou al drie jaar dat hierdie boom nie vye dra nie. Kap hom uit! Dit put net die grond uit. Kom ons plant liewer ’n ander boom in sy plek.’ “Toe sê die tuinier: ‘Ag, Meneer, kan ons nie maar nog ’n keer probeer nie? Kom ons gee die boom nog ’n jaar kans. Ek sal sorg dat hy hierdie jaar die beste bemesting en genoeg water kry. Dan behoort hy volgende jaar vrugte te dra. So nie, as al my harde werk nie help nie, kan u die boom maar uitkap.’” Kort daarna het Jesus een sabbatdag na ’n Joodse sinagoge toe gegaan om die mense daar te leer wat God van hulle vra. Daar was ook ’n vrou in die skare wat al agtien jaar lank baie siek was. Haar hele liggaam was inmekaargetrek. Sy kon nie normaal loop nie. Toe Jesus haar raaksien, het Hy haar jammer gekry en dadelik vir haar gesê: “Ek het baie goeie nuus vir jou: van hierdie oomblik af is jy heeltemal gesond.” Toe Jesus sy hand op haar sit, het sy dadelik regop gestaan. Sy was so bly dat sy God se Naam grootgemaak het. Maar die hoof van die sinagoge was baie kwaad omdat Jesus iemand op die sabbatdag gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense wat hierdie wonderwerk aanskou het: “Kyk, daar is ses dae waarop ’n mens kan werk. Op daardie dae kan siekes gesond gemaak word. Maar definitief nie op die sabbat nie. Dié man het hier voor ons oë die sabbat oortree.” “Julle skynheiliges!” het Jesus dadelik teruggekap. “Gee julle nie op die sabbat vir julle diere kos en water nie? Tel dit nie as werk nie? Ek het vandag ’n Israelitiese vrou verlos wat agtien jaar lank deur die duiwel gekasty is. Na al die jare van swaarkry is sy uiteindelik vry. Is dit nie gepas dat sy juis op God se rusdag self ware rus moes vind nie?” Die ander godsdienstige leiers wat ook vir Jesus kwaad was, het skaam gekry toe hulle hoor wat Hy sê. Maar die res van die mense was oorstelp van vreugde oor alles wat Jesus gedoen het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 13:1-17