LUKAS 13:1-17

LUKAS 13:1-17 NLV

Omtrent hierdie tyd is Jesus meegedeel dat Pilatus ’n aantal mense van Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het by die tempel in Jerusalem. “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het? Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom. En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem? Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.” Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld. Uiteindelik het hy vir sy tuinier gesê: ‘Kyk, ek kom soek nou al drie jaar lank vrugte aan hierdie boom en kry niks nie. Haal hom uit! Hoekom moet hy die grond nog langer uitput?’ “Die tuinier het geantwoord: ‘Meneer, gee hom nog een kans. Los hom nog ’n jaar, en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting. As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’” Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het, het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!” Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie! Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het. “Daar is ses dae van die week om te werk,” het hy vir die skare gesê. “Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.” Maar die Here antwoord hom: “Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie? Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?” Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 13:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid