Lukas 13:1-17

Lukas 13:1-17 AFR20

Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed •Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. ” Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ” Op die Sabbat het Hy in een van die •sinagoges onderrig gegee. En kyk, daar was 'n vrou wat al agttien jaar lank gely het onder 'n gees wat haar siek gemaak het. Sy was kromgetrek, en kon glad nie regop kom nie. Toe Jesus haar sien, het Hy haar nader geroep en vir haar gesê: “Mevrou, jy is van jou siekte verlos.” Daarna het Hy sy hande op haar gelê, en sy het dadelik regop gekom en God geloof. Maar die leier van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus iemand op die Sabbat gesond gemaak het, en hy het vir die skare gesê: “Daar is ses dae waarop 'n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” Maar die Here het hom geantwoord: “Skynheiliges! Maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy os of sy donkie los van die krip en lei hom uit om te drink nie? En hierdie vrou, 'n dogter van Abraham, vir wie Satan al agttien jaar lank gevange hou, moes sy dan nie op die Sabbat van hierdie boeie verlos word nie?” Toe Hy dit gesê het, het al sy teenstanders beskaamd gestaan, maar die hele skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat deur Hom verrig is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 13:1-17