LUKAS 13:1-17

LUKAS 13:1-17 AFR53

EN in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het — dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. EN Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap. EN Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer. En daar was 'n vrou wat 'n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos. En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik. Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop 'n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie. Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is, wat die Satan — dink daaraan! — agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie? En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 13:1-17