LEVITIKUS 4:20-35
LEVITIKUS 4:20-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy moet met die bul maak soos hy met die bul van die reinigingsoffer gemaak het. So sal die priester oor hulle versoening doen en sal hulle vergewe word. Hy moet die bul uit die kamp neem en dit verbrand soos hy die eerste bul verbrand het. Dit is die geloofsgemeenskap se reinigingsoffer. “ ‘ Wanneer 'n leier gesondig het en onopsetlik gedoen het wat een van die gebooie van die HERE sy God sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend gemaak word, moet hy as sy offer 'n bokram sonder gebrek bring. Hy moet sy hand op die kop van die bok lê en dit keelaf sny op die plek waar die •brandoffer voor die HERE keelaf gesny word. Dit is 'n reinigingsoffer. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die brandofferaltaar uitgooi. Al die vet moet hy, soos die vet van die maaltydoffer, op die altaar verbrand. So sal die priester vir die leier versoening doen vir sy sonde en sal hy vergewe word. “ ‘ As iemand uit die volk van die land onopsetlik sondig deur te doen wat een van die gebooie van die HERE sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het aan hom bekend gemaak word, moet hy 'n bokooi sonder gebrek bring as offer vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moet sy hand op die kop van die reinigingsoffer lê en dit op dieselfde plek as die brandoffer keelaf sny. Die priester moet van die bloed neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die maaltydoffer verwyder. Die priester moet dit op die altaar verbrand as 'n geurige offer vir die HERE. So sal die priester vir die persoon versoening doen en sal hy vergewe word. “ ‘As hy 'n skaap as sy reinigingsoffer bring, moet dit 'n ooi sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet sy hand op die reinigingsoffer se kop lê en dit as 'n reinigingsoffer keelaf sny op die plek waar die brandoffer keelaf gesny word. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en al die oorblywende bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die skaap vir die maaltydoffer verwyder het. Die priester moet dit op die altaar verbrand saam met die ander offergawes vir die HERE. So sal die priester vir die persoon versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het en sal hy vergewe word.
LEVITIKUS 4:20-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
soos met die sonde-offer vir die priester gedoen word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die volk en hulle sal vergewe word. Die priester moet dan dit wat van die bul oor is na die buitekant van die kamp toe vat en dit daar verbrand, net soos gedoen word met die sonde-offer van die hoëpriester. Dit is die sonde-offer vir die hele gemeenskap van Israel. “As een van Israel se leiers iets doen wat deur die HERE sy God verbied word, is hy skuldig selfs al het hy dit onopsetlik gedoen. Sodra hy bewus word van sy sonde, moet hy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as offer bring. Hy moet sy hand op die bok se kop lê en dit in die teenwoordigheid van die HERE slag by die plek waar brandoffers geslag word. Dit is sy sonde-offer. Die priester sal dan sy vinger in die bloed van die sonde-offer steek, dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res teen die onderkant van die altaar uitgooi. Hy moet al die vet van die bok op die altaar verbrand, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Op dié manier sal die priester vir die sonde van die leier versoening doen en sal hy vergewe word. “As enige burger van Israel iets doen wat deur die HERE verbied word, is hy skuldig selfs al sondig hy onopsetlik. As hulle bewus word van hulle sonde, moet hulle ’n bokooi sonder gebrek as ’n offer bring. Die bok sal dan vir hulle sonde geoffer word. Hulle moet hulle hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffer geslag word. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi. Hy sal die vet van die bok verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Dan sal hy die vet op die altaar verbrand en dit sal vir die HERE aangenaam wees. So sal die priester vir hulle versoening doen en hulle sal vergewe word. “As enigeen van die volk ’n skaap as ’n sonde-offer bring, moet dit ’n skaapooi sonder liggaamsgebrek wees. Hy moet sy hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffers geslag word. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi. Dan word al die vet van die skaap verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gedoen word. Die priester verbrand die vet op die altaar bo-op die vuuroffers vir die HERE. Op dié manier sal die priester versoening doen vir hulle en hulle sal vergewe word.”
LEVITIKUS 4:20-35 Bybel vir almal (ABA)
Hy moet met hierdie bul doen soos met die ander bul. So moet hy versoening doen vir die mense in die vergadering, sodat die Here hulle sal vergewe. Hy moet die bul uit die kamp neem en hy moet dit verbrand, soos die ander bul. Dit is die sonde-offer van die volksvergadering. “Miskien is dit 'n leier wat sonde doen, wanneer hy iets doen teen een van die gebooie van sy God die Here, maar hy weet dit nie, en hy word skuldig. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy 'n gesonde bok-ram gee om 'n offer te wees. Hy moet sy hand op die bok se kop sit en hy moet die bok slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier voor die Here slag. Dit is 'n sonde-offer. Die priester moet dan van die sonde-offerbok se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar. Dan moet hy al die vet van die bok op die altaar verbrand, soos die vet van die ete-offer. Die priester doen so versoening vir die sonde van die leier, en die Here sal hom vergewe. “Miskien doen 'n gewone mens sonde, maar hy weet dit nie. Hy doen iets teen een van die gebooie van die Here en hy word skuldig. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy 'n gesonde bok-ooi gee om 'n offer te wees vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet die ooi slag op die plek waar hulle die brandoffer-diere slag. Die priester moet dan van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar. Dan moet hy al die vet uithaal wat in die ooi is, soos hy die vet van die dier uithaal wat die ete-offer moet wees, en hy moet dit op die altaar verbrand. Dit ruik lekker vir die Here. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal hom vergewe. Wanneer die persoon 'n skaap gee om 'n sonde-offer te wees, dan moet hy 'n gesonde skaap-ooi gee. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet haar slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier slag. Die priester moet van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar. Hy moet al die vet uithaal, soos hy die vet van die skaap vir die ete-offer uithaal, en hy moet dit op die altaar verbrand, saam met die vuur-offers vir die Here. Die priester doen so versoening vir die sonde wat die persoon gedoen het, en die Here sal hom vergewe.”
LEVITIKUS 4:20-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en met die bul doen soos hy met die sondofferbul gedoen het. So moet hy met hom maak; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle vergewe word. Daarna moet hy die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy die eerste bul verbrand het; dit is 'n sondoffer van die vergadering. As 'n owerste sondig en in swakheid enigiets doen wat die HERE sy God verbied het, en hy skuldig word; of as sy sonde wat hy so gedoen het, aan hom bekend word, moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ram; en hy moet sy hand op die kop van die bok lê en hom slag op die plek waar hulle die brandoffer voor die aangesig van die HERE slag; dit is 'n sondoffer. Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar die orige bloed moet hy aan die onderkant van die brandofferaltaar uitgiet. Hy moet ook al die vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die dankoffer. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens sy sonde, en dit sal hom vergewe word. En as iemand van die volk van die land in swakheid sondig, omdat hy enigiets doen wat die HERE verbied het, en hy skuldig word; of as sy sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend word, dan moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ooi, vir die sonde wat hy gedoen het; en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag op die plek van die brandoffer. Dan moet die priester van haar bloed met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankoffer af weggeneem is, en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur vir die HERE. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en dit sal hom vergewe word. Maar ingeval hy 'n skaaplam as sy sondoffer bring, moet dit 'n ooi wees sonder gebrek wat hy bring; en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag op die plek waar hulle die brandoffer slag. Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk, maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankofferlam weggeneem word, en die priester moet dit op die altaar oor die vuuroffers van die HERE aan die brand steek. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.
LEVITIKUS 4:20-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder doen hy met die bul presies wat gedoen word met die sondeoffer. So doen die priester versoening vir die volk en word hulle sonde vergewe. Hy bring dan die bul buitekant die kamp en verbrand dit net soos die bul wat voorheen genoem is. Dit is die sondeoffer van die volk. “As 'n gesagsdraer sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy sonder opset 'n gebod van die Here sy God oortree, en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokram sonder liggaamsgebrek as offer. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag dit in die teenwoordigheid van die Here op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Dit is die sondeoffer. Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. Hy verbrand dan al die vet op die altaar soos in die geval van die vet van die maaltydoffer. So doen die priester versoening vir die gesagsdraer en word sy sonde vergewe. “As een van die burgers van die land sonder opset sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy 'n gebod van die Here oortree, en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokooi sonder liggaamsgebrek as offer vir die sonde wat hy begaan het. Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. Al die vet word verwyder soos in die geval van die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar. Die offer word deur die Here aanvaar. So doen die priester versoening vir die burger en word sy sonde vergewe. “As hy 'n skaap as sondeoffer bring, bring hy 'n ooi sonder liggaamsgebrek. Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit as 'n sondeoffer op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Die priester vat dan met sy vinger van die offerdier se bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. Al die vet word verwyder soos in die geval van die skaap vir die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. So doen die priester versoening vir die sonde wat die burger gedoen het, en word sy sonde vergewe.”
LEVITIKUS 4:20-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy moet met die bul doen soos hy met die bul as sondoffer gedoen het, so moet hy hiermee doen; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle vergewe word. En hy moet die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy die eerste bul verbrand het; dit is 'n sondoffer vir die vergadering. As 'n owerste gesondig het en uit onkunde iets gedoen het teen enige van die gebooie van die HERE sy God aangaande dinge wat nie gedoen moet word nie, en hy is skuldig; Of as sy sonde waarin hy gesondig het, tot sy kennis gekom het; hy moet sy offer bring, 'n bokkie, 'n mannetjie sonder gebrek; En hy moet sy hand op die kop van die bok lê en dit slag op die plek waar hulle die brandoffer voor die aangesig van die HERE slag: dit is 'n sondoffer. En die priester moet van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en sy bloed onder op die brandofferaltaar uitgiet. En hy moet al sy vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die dankoffer; en die priester moet vir hom versoening doen vir sy sonde, en dit sal hom vergewe word. En as een van die gewone mense deur onkunde sondig, terwyl hy iets doen teen enige van die gebooie van die HERE aangaande dinge wat nie moet gedoen word nie, en skuldig is; Of as sy sonde wat hy gesondig het, tot sy kennis kom, dan moet hy sy offer bring, 'n bokkie, 'n ooi sonder gebrek vir sy sonde wat hy gedoen het. En hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag in die plek van die brandoffer. En die priester moet van die bloed daarvan met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en al die bloed daarvan aan die onderkant van die altaar uitgiet. En hy moet al die vet daarvan wegneem soos die vet van die dankoffer weggeneem word; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as 'n lieflike geur vir die HERE; en die priester moet vir hom versoening doen, en dit sal hom vergewe word. En as hy 'n lam as sondoffer bring, moet hy dit 'n ooi sonder gebrek bring. En hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag op die plek waar hulle die brandoffer slag. En die priester moet van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en al die bloed daarvan aan die onderkant van die altaar uitgiet. En hy moet al die vet daarvan wegneem soos die vet van die lam van die dankoffer weggeneem word; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek volgens die vuuroffers aan die HERE; en die priester moet versoening doen vir sy sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.
LEVITIKUS 4:20-35 Die Boodskap (DB)
Hy maak met die bul presies net soos hy gemaak het met die bul wat hulle vir hulle sonde gebring het. Wanneer hy so maak, vergewe die Here die volk dat hulle oortree het. Daar kom weer vrede tussen God en sy mense. Die dienaar van die tent vat dan die bul se karkas uit die kamp uit en hy verbrand dit daar, net soos hy met die eerste bul gemaak het. Hierdie bul is dan die offer vir die sonde van die volk. “Wanneer ’n leier ’n fout maak sonder dat hy dit bedoel en hy iets doen wat die Here beveel het nie mag gebeur nie, is hy skuldig. As dit duidelik word dat hy oortree het, moet hy ’n bokram sonder gebrek vir die Here bring. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag hom op dieselfde plek waar die offers geslag word wat vir die Here verbrand word. Daarmee betaal hy vir die sonde wat hy gedoen het. Die persoon wat by die tent diens doen, vat van die bloed van die dier wat hy vir sy sonde kom offer het en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die voet van die altaar uit. Hy verbrand dan al die vet van die bok op die altaar net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Wanneer die dienaar so maak, bring hy vergewing vir die leier se sonde. Hy word dan vrygespreek van sy oortreding. “Wanneer een van die inwoners van die land nalatig was en iets gedoen het waarteen die wette van die Here hom gewaarsku het, is hy skuldig. As iemand hom daarop wys, moet hy ’n bokooi sonder foute vat en dit vir die Here kom offer. Dit betaal vir die fout wat hy gemaak het. Hy sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit op dieselfde plek waar die diere wat verbrand word, ook geslag word. Die amptenaar wat diens doen by die tent vat van die bloed van die ooi en smeer daarvan met sy vinger aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Wat van die bloed oorbly, gooi hy uit teen die onderkant van die altaar. Die man verwyder self al die vet van die bok net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit op die altaar sodat dit vir die Here lekker kan ruik. Op hierdie manier vergewe die Here die man vir wat hy verkeerd gedoen het. Daar is weer vrede tussen hom en die Here. “Indien die persoon eerder ’n skaapooi vir sy sonde wil bring, moet dit een sonder foute wees. Hy sit sy hand op haar kop en slag die dier vir sy sonde op dieselfde plek waar die offer geslag word wat in die vuur verbrand word. Die dienaar vat van die bloed van die dier wat geslag is en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die brandofferaltaar. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit. Die persoon verwyder self al die vet net soos die vet van die bok wat geoffer is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit alles op die altaar saam met die ander diere wat vir die Here verbrand word. So bring die dienaar by die tent die betaling vir die persoon se sonde. Hy word vrygespreek. Daar kom weer vrede tussen hom en God.”