Hy maak met die bul presies net soos hy gemaak het met die bul wat hulle vir hulle sonde gebring het. Wanneer hy so maak, vergewe die Here die volk dat hulle oortree het. Daar kom weer vrede tussen God en sy mense. Die dienaar van die tent vat dan die bul se karkas uit die kamp uit en hy verbrand dit daar, net soos hy met die eerste bul gemaak het. Hierdie bul is dan die offer vir die sonde van die volk. “Wanneer ’n leier ’n fout maak sonder dat hy dit bedoel en hy iets doen wat die Here beveel het nie mag gebeur nie, is hy skuldig. As dit duidelik word dat hy oortree het, moet hy ’n bokram sonder gebrek vir die Here bring. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag hom op dieselfde plek waar die offers geslag word wat vir die Here verbrand word. Daarmee betaal hy vir die sonde wat hy gedoen het. Die persoon wat by die tent diens doen, vat van die bloed van die dier wat hy vir sy sonde kom offer het en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die voet van die altaar uit. Hy verbrand dan al die vet van die bok op die altaar net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Wanneer die dienaar so maak, bring hy vergewing vir die leier se sonde. Hy word dan vrygespreek van sy oortreding. “Wanneer een van die inwoners van die land nalatig was en iets gedoen het waarteen die wette van die Here hom gewaarsku het, is hy skuldig. As iemand hom daarop wys, moet hy ’n bokooi sonder foute vat en dit vir die Here kom offer. Dit betaal vir die fout wat hy gemaak het. Hy sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit op dieselfde plek waar die diere wat verbrand word, ook geslag word. Die amptenaar wat diens doen by die tent vat van die bloed van die ooi en smeer daarvan met sy vinger aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Wat van die bloed oorbly, gooi hy uit teen die onderkant van die altaar. Die man verwyder self al die vet van die bok net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit op die altaar sodat dit vir die Here lekker kan ruik. Op hierdie manier vergewe die Here die man vir wat hy verkeerd gedoen het. Daar is weer vrede tussen hom en die Here. “Indien die persoon eerder ’n skaapooi vir sy sonde wil bring, moet dit een sonder foute wees. Hy sit sy hand op haar kop en slag die dier vir sy sonde op dieselfde plek waar die offer geslag word wat in die vuur verbrand word. Die dienaar vat van die bloed van die dier wat geslag is en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die brandofferaltaar. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit. Die persoon verwyder self al die vet net soos die vet van die bok wat geoffer is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit alles op die altaar saam met die ander diere wat vir die Here verbrand word. So bring die dienaar by die tent die betaling vir die persoon se sonde. Hy word vrygespreek. Daar kom weer vrede tussen hom en God.”
Lees Levitikus 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Levitikus 4:20-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's