en met die bul doen soos hy met die sondofferbul gedoen het. So moet hy met hom maak; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle vergewe word. Daarna moet hy die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy die eerste bul verbrand het; dit is 'n sondoffer van die vergadering. As 'n owerste sondig en in swakheid enigiets doen wat die HERE sy God verbied het, en hy skuldig word; of as sy sonde wat hy so gedoen het, aan hom bekend word, moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ram; en hy moet sy hand op die kop van die bok lê en hom slag op die plek waar hulle die brandoffer voor die aangesig van die HERE slag; dit is 'n sondoffer. Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar die orige bloed moet hy aan die onderkant van die brandofferaltaar uitgiet. Hy moet ook al die vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die dankoffer. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens sy sonde, en dit sal hom vergewe word. En as iemand van die volk van die land in swakheid sondig, omdat hy enigiets doen wat die HERE verbied het, en hy skuldig word; of as sy sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend word, dan moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ooi, vir die sonde wat hy gedoen het; en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag op die plek van die brandoffer. Dan moet die priester van haar bloed met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankoffer af weggeneem is, en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur vir die HERE. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en dit sal hom vergewe word. Maar ingeval hy 'n skaaplam as sy sondoffer bring, moet dit 'n ooi wees sonder gebrek wat hy bring; en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag op die plek waar hulle die brandoffer slag. Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk, maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankofferlam weggeneem word, en die priester moet dit op die altaar oor die vuuroffers van die HERE aan die brand steek. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.
Lees LEVÍTIKUS 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: LEVÍTIKUS 4:20-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's