Hy moet met die bul maak soos hy met die bul van die reinigingsoffer gemaak het. So sal die priester oor hulle versoening doen en sal hulle vergewe word. Hy moet die bul uit die kamp neem en dit verbrand soos hy die eerste bul verbrand het. Dit is die geloofsgemeenskap se reinigingsoffer. “ ‘ Wanneer 'n leier gesondig het en onopsetlik gedoen het wat een van die gebooie van die HERE sy God sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend gemaak word, moet hy as sy offer 'n bokram sonder gebrek bring. Hy moet sy hand op die kop van die bok lê en dit keelaf sny op die plek waar die •brandoffer voor die HERE keelaf gesny word. Dit is 'n reinigingsoffer. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die brandofferaltaar uitgooi. Al die vet moet hy, soos die vet van die maaltydoffer, op die altaar verbrand. So sal die priester vir die leier versoening doen vir sy sonde en sal hy vergewe word. “ ‘ As iemand uit die volk van die land onopsetlik sondig deur te doen wat een van die gebooie van die HERE sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het aan hom bekend gemaak word, moet hy 'n bokooi sonder gebrek bring as offer vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moet sy hand op die kop van die reinigingsoffer lê en dit op dieselfde plek as die brandoffer keelaf sny. Die priester moet van die bloed neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die maaltydoffer verwyder. Die priester moet dit op die altaar verbrand as 'n geurige offer vir die HERE. So sal die priester vir die persoon versoening doen en sal hy vergewe word. “ ‘As hy 'n skaap as sy reinigingsoffer bring, moet dit 'n ooi sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet sy hand op die reinigingsoffer se kop lê en dit as 'n reinigingsoffer keelaf sny op die plek waar die brandoffer keelaf gesny word. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en al die oorblywende bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die skaap vir die maaltydoffer verwyder het. Die priester moet dit op die altaar verbrand saam met die ander offergawes vir die HERE. So sal die priester vir die persoon versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het en sal hy vergewe word.
Lees Levitikus 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Levitikus 4:20-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's