JOSUA 6:15-23

JOSUA 6:15-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan. Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor! Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek. Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor. Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.” Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies. Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig.

JOSUA 6:15-23 Die Boodskap (DB)

Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor! Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.” Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel. Hulle het alles vernietig wat in die stad was. Mans en vroue, jonk en oud, beeste, skape, donkies, alles is voor die voet tot niet gemaak. Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.” Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring.

JOSUA 6:15-23 Bybel vir almal (ABA)

Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop. En toe die priesters die sewende maal die ramshorings blaas, het Josua vir die manne gesê: “Julle moet skree om die oorlog te begin, want die Here sal julle laat wen teen die mense van hierdie stad. Maar julle moet die stad en alles wat daarin is, aan die Here wy en julle moet dit verwoes. Net die prostituut Ragab en almal by haar in haar huis mag aanhou lewe, want sy het ons boodskappers weggesteek. En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp. Die silwer en die goud en die goed van brons en yster is aan die Here gewy, julle moet dit sit in die stoorkamer van die Here.” Die manne het geskree om die oorlog te begin, en hulle het die ramshorings geblaas. Toe die manne hoor die ramshorings blaas, het hulle hard geskree om die oorlog te begin. Die muur van die stad het omgeval, en die manne het opgeklim in die stad, elkeen het reguit vorentoe in die stad ingegaan en hulle het die stad oorwin. Hulle het almal en alles in die stad doodgemaak, mans en vroue, jongmense en oumense, beeste, skape en donkies. Josua het vir die twee mans wat gaan kyk het hoe die land is, gesê: “Gaan na die huis van die prostituut en bring haar en al haar mense uit. Doen dit, want julle het dit vir haar belowe.” Die jongmanne wat gaan kyk het hoe die land is, het gegaan en hulle het vir Ragab, haar ouers, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring. Die jongmanne het hulle buite die kamp van die Israeliete laat bly.

JOSUA 6:15-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. Maar die stad met al wat daarin is, moet 'n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. Maar al die silwer en goud en die koper- en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom. Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk 'n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem. En alles wat in die stad was, het hulle deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref, man sowel as vrou, jonk sowel as oud, tot bees, skaap en esel toe. En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het. Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring — al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly.

JOSUA 6:15-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die HERE gee die stad aan julle! Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die HERE. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die HERE; na die skatkamer van die HERE moet dit gaan.” Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle 'n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem en alles wat in die stad was, deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref – van man tot vrou, kind tot oumens, ja, selfs die beeste, skape en donkies. Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly.

JOSUA 6:15-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan teen die aanbreek van die dag en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; maar op dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En op die sewende keer, toe die priesters op die basuine blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE het aan julle die stad gegee. En die stad sal vervloek wees, ook sy en alles wat daarin is, aan die HERE: net Ragab, die hoer, sal lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, weggesteek het. En julle moet julle in elk geval bewaar van die bangoed, dat julle nie vir julleself vervloek word as julle van die bangoed aanneem en die laer van Israel 'n vloek maak en dit vervloek nie. Maar al die silwer en goud en die voorwerpe van koper en yster is aan die HERE geheilig; dit moet in die skatkamer van die HERE kom. En die volk het geskreeu toe die priesters op die basuine blaas; en toe die volk die geluid van die basuin hoor, en die volk met 'n groot geroep skree, het die muur plat geval, sodat die volk opgegaan het en die stad binne, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem. En hulle het alles wat in die stad was met die banvloek getref, man sowel as vrou, jonk en oud, en bees en kleinvee en esel, met die skerpte van die swaard. Maar Josua het aan die twee manne wat die land verken het, gesê: Gaan in die huis van die hoer en bring die vrou en alles wat sy het, daarvandaan uit, soos julle aan haar gesweer het. En die jongmanne wat spioene was, het ingegaan en Ragab en haar vader en haar moeder en haar broers en alles wat sy gehad het, uitgelei; en hulle het al haar geslagte uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel agtergelaat.

JOSUA 6:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer. Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die HERE gee die stad vir julle! Die stad is ’n banoffer vir die HERE. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek. Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die HERE behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring. Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die HERE. Alles moet in die skatkis van die HERE kom.” Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem. Hulle het alles in die stad met die swaard uitgewis: mans en vroue, oud en jonk, selfs die beeste, die skape en die donkies. Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.” Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring.