JOSUA 6:15-23

JOSUA 6:15-23 NLV

Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer. Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die HERE gee die stad vir julle! Die stad is ’n banoffer vir die HERE. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek. Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die HERE behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring. Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die HERE. Alles moet in die skatkis van die HERE kom.” Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem. Hulle het alles in die stad met die swaard uitgewis: mans en vroue, oud en jonk, selfs die beeste, die skape en die donkies. Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.” Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOSUA 6:15-23