Josua 6

6
1Jerigo se poorte was egter dig gesluit vanweë die Israeliete; niemand het daar uitgegaan of ingegaan nie. 2 Die Here sê toe vir Josua: “Kyk, Ek gee Jerigo, sy koning en sy dapper krygers in jou hand. 3Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne. Jy moet een keer om die stad gaan. Ses dae lank moet jy só maak: 4 Sewe priesters moet sewe •ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. 5En wanneer daar lank op die horing van die ram geblaas word, moet al die manskappe, sodra julle die geluid van die ramshorings hoor, 'n baie harde oorlogskreet aanhef. Die stadsmuur sal dan ineenstort, en die manskappe moet bo-oor klim, elke man reg voor hom uit.”
6Josua, seun van Nun, het toe die priesters ontbied en vir hulle gesê: “Dra die verbondsark. Sewe priesters moet die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra.” 7Hy sê toe vir die manskappe: “Trek op en gaan om die stad; die gewapende manne moet voor die ark van die Here optrek.”
8Net toe Josua dit vir die manskappe gesê het, het die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die Here dra, opgetrek en op die ramshorings geblaas, terwyl die verbondsark van die Here hulle volg. 9Die gewapende manne het voor die priesters wat op die ramshorings blaas, geloop, terwyl die agterhoede die ark volg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. 10Aan die manskappe het Josua die opdrag gegee: “Julle mag nie 'n oorlogskreet aanhef en julle stemme laat hoor nie. Daar mag nie 'n woord uit julle monde kom nie, tot die dag dat ek vir julle sê, ‘Skreeu!’ dan moet julle die oorlogskreet aanhef.”
11Josua het die ark van die Here om die stad laat trek. Dit het een keer om die stad gegaan. Daarna het hulle na die kamp teruggegaan en in die kamp oornag. 12 Josua het vroeg die môre opgestaan. Die priesters het die ark van die Here gedra, 13en die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra, het aanhoudend op die ramshorings geloop en blaas. Die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. 14Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. 15Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. 16Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die Here gee die stad aan julle! 17Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die Here. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. 18 Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. 19Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die Here; na die skatkamer van die Here moet dit gaan.”
20Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle 'n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem 21 en alles wat in die stad was, deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref – van man tot vrou, kind tot oumens, ja, selfs die beeste, skape en donkies.
22Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met 'n eed beloof het.” 23Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly.
24Die stad en alles wat daarin was, het hulle afgebrand. Net die silwer, die goud en voorwerpe van brons en yster het hulle oorhandig vir die skatkamer van die huis van die Here. 25Maar vir Ragab, die prostituut, en haar familie – almal wat by haar hoort – het Josua laat leef. Sy het in Israel bly woon tot vandag toe, omdat sy die boodskappers wat Josua gestuur het om Jerigo te verken, versteek het.
26Josua het in daardie tyd 'n eed afgelê:
“Vervloek voor die Here is die man
wat opstaan en hierdie stad,
Jerigo, herbou:
Ten koste van sy eersgeborene
sal hy die fondamente lê,
en ten koste van sy jongste
sal hy die poortdeure oprig.”
27Die Here was met Josua, en sy roem het deur die hele land versprei.

Tans Gekies:

Josua 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid