Josua 5

5
Besnydenis by Gilgal
1Toe al die konings van die Amoriete aan die westekant van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete langs die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, het hulle harte ineengekrimp, sodat hulle nie meer moed gehad het vir die Israeliete nie.
2In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny weer die Israeliete 'n tweede keer. ” 3Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en die Israeliete besny by Ghibeat Ha-araloot. 4En dit is die rede waarom Josua die besnydenis moes doen: Die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die krygsmanne, is op pad in die woestyn dood, gedurende die uittog uit Egipte. 5Die hele volk wat weggetrek het, was immers besny; maar al die volksgenote wat in die woestyn gebore is terwyl hulle op pad was, gedurende hulle uittog uit Egipte, is nie besny nie. 6Want veertig jaar lank het die Israeliete in die woestyn rondbeweeg, totdat die hele nasie krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, tot niet was, hulle wat nie na die stem van die Here geluister het nie, vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle nie die land sal laat sien wat die Here aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee nie – 'n land wat oorloop van melk en heuning. 7Maar hulle kinders het Hy in hulle plek gestel. Dit is hulle wat Josua besny het, want hulle was onbesnede, omdat hulle nie op pad besny is nie. 8Toe die hele volk klaar besny is, het hulle net waar hulle was in die kamp gebly, totdat hulle gesond was.
9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so.
Pasga by Gilgal
10Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. 11Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. 12 Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet.
Verowering van Jerigo
13Toe Josua naby Jerigo was, het hy opgekyk. Reg voor hom staan daar skielik 'n man met 'n ontblote swaard in sy hand. Josua gaan toe na hom en vra hom: “Is jy vir ons, of vir ons vyande?” 14Hy het geantwoord: “Nee, maar ek is die bevelvoerder van die leër van die Here; daarom het ek gekom.” Josua het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig, en vir hom gesê: “Wat wil my heer vir sy dienaar sê?” 15Die bevelvoerder van die leër van die Here het Josua geantwoord: “Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig.” Josua het toe so gemaak.

Tans Gekies:

Josua 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid