Josua 4

4
Oprig van gedenktekens
1Toe die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het, het die Here vir Josua gesê: 2“ Neem vir julle twaalf manne uit die volk, een man uit elke stam, 3en gee aan hulle opdrag, ‘Tel vir julle twaalf klippe op daar in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters stewig staan. Neem dit saam met julle deur die rivier en sit dit neer op die plek waar julle vannag gaan oornag. ’ ”
4Josua het die twaalf manne wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, ontbied. 5Josua het vir hulle gesê: “Gaan voor die ark van die Here julle God uit tot in die middel van die Jordaan, en tel elkeen dan self 'n klip op sy skouer, net soveel as die stamme van die Israeliete, 6sodat dit kan dien as 'n teken onder julle. Wanneer julle kinders in die toekoms vra, ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ 7moet julle vir hulle sê dat die water van die Jordaan afgesny was voor die verbondsark van die Here. Sê vir hulle, ‘Toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die water van die Jordaan afgesny; en hierdie klippe dien vir altyd as 'n herinnering aan die Israeliete.’ ”
8Die Israeliete het gemaak soos Josua beveel het: Hulle het twaalf klippe, net soveel as die stamme van die Israeliete, uit die middel van die Jordaan opgetel, soos die Here vir Josua gesê het. Hulle het dit met hulle saamgeneem na hulle oornagplek en dit daar neergesit.
9Nog twaalf klippe is deur Josua in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die voete van die priesters wat die verbondsark gedra het, gestaan het. Dit is daar tot vandag toe.
10Die priesters wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Jordaan, totdat alles afgehandel was wat die Here Josua beveel het om vir die volk te sê, net soos Moses vir Josua beveel het. Die volk het haastig deurgetrek; 11en toe die hele volk die deurtog voltooi het, het die ark van die Here en die priesters voor die volk deurgegaan. 12Die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het voor die Israeliete in slagorde deurgetrek, soos Moses vir hulle gesê het. 13Ongeveer veertigduisend het, gewapen vir die oorlog, voor die Here vir die geveg na die vlaktes van Jerigo deurgetrek. 14Op daardie dag het die Here Josua se aansien verhoog in die oë van die hele Israel en hulle het, solank hy geleef het, vir hom ontsag gehad soos hulle vir Moses ontsag gehad het.
15Die Here het vir Josua gesê: 16“Beveel die priesters wat die ark met die Getuienis dra, om uit die Jordaan op te klim.” 17Josua het toe die priesters beveel: “Klim op uit die Jordaan!” 18Toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die middel van die Jordaan opklim en hulle voetsole droë grond raak, het die water van die Jordaan teruggevloei na sy plek. Dit het soos voorheen kant en wal geloop.
19Die volk self het uit die Jordaan opgetrek op die tiende van die eerste maand. Hulle het kamp opgeslaan by Gilgal aan die oosgrens van Jerigo. 20 Daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua in Gilgal opgerig. 21Hy het vir die Israeliete gesê: “As julle kinders in die toekoms vir hulle ouers vra, ‘Wat beteken hierdie klippe?’ 22dan moet julle aan julle kinders verduidelik, ‘Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek.’ 23 Want die Here julle God het die water van die Jordaan voor julle laat opdroog, totdat julle deurgetrek het, soos wat die Here julle God gedoen het met die Rietsee wat Hy voor ons laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het, 24 sodat al die volke van die aarde mag weet dat die hand van die Here sterk is, en sodat julle altyd vir die Here julle God ontsag sal hê.”

Tans Gekies:

Josua 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid