Josua 6:15-23

Josua 6:15-23 AFR20

Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die HERE gee die stad aan julle! Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die HERE. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die HERE; na die skatkamer van die HERE moet dit gaan.” Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle 'n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem en alles wat in die stad was, deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref – van man tot vrou, kind tot oumens, ja, selfs die beeste, skape en donkies. Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly.

Video for Josua 6:15-23

Gratis leesplanne en oordenkings oor Josua 6:15-23