JOSUA 14:6-13
JOSUA 14:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea. Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het, maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg, en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’ “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig, maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.” Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken.
JOSUA 14:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die nageslag van Juda het Josua in Gilgal genader, en Kaleb, seun van Jefunne, van die familie van Kenas, het vir hom gesê: “Jy self is bewus van die woorde wat die HERE vir Moses, die man van God, gesê het oor my en oor jou in Kades-Barnea. Ek was veertig jaar oud toe Moses, die dienskneg van die HERE, my uit Kades-Barnea gestuur het om die land te verken, en ek het aan hom verslag gedoen volgens my oortuiging. My volksgenote wat saam met my opgetrek het, het egter die harte van die volk ineen laat krimp, maar ek het die HERE my God met volharding gevolg. Moses het daardie dag 'n eed afgelê, ‘Die grond waarop jou voet getrap het, aan jou sal dit as erfenis behoort, en aan jou nageslag vir altyd, omdat jy die HERE my God met volharding gevolg het.’ “En nou, kyk, die HERE het my laat leef, soos Hy gesê het, nou reeds vyf-en-veertig jaar nadat die HERE hierdie woorde vir Moses gesê het toe Israel nog in die woestyn rondgetrek het. En nou, kyk, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud. Ek is vandag nog so sterk soos op die dag toe Moses my uitgestuur het. Soos my krag toe was, so is my krag nou nog om vir oorlog uit te trek en terug te keer. Gee dan nou hierdie berggebied vir my, soos die HERE daardie dag gesê het. Jy het immers self op daardie dag gehoor dat die Enakiete daar is met groot versterkte stede. Miskien is die HERE met my, dan sal ek hulle verdryf, soos die HERE gesê het.” Josua het hom geseën en Hebron aan Kaleb, seun van Jefunne, gegee as erfdeel.
JOSUA 14:6-13 Die Boodskap (DB)
By Gilgal het ’n afvaardiging van die stam van Juda onder leiding van Kaleb die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua toe gekom. Kaleb sê toe vir Josua: “Jy onthou mos wat die Here vir Moses, die man van God, oor my en jou gesê het daar by Kades-Barnea. Ek was 40 jaar oud toe Moses die Here se dienaar my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Die verslag wat ek teruggebring het, was eerlik. My medeverkenners het egter die volk bang gepraat, maar ek was getrou aan die Here my God. Daarom het Moses daardie dag ’n belofte aan my gemaak: ‘Die gebied waardeur jy geloop het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort omdat jy die Here jou God met jou hele lewe vertrou het.’ Soos jy kan sien, het die Here sy belofte aan my nagekom dat ek lewe en ook in die Beloofde Land sou ingaan. Vyf en veertig jaar gelede het die Here dit vir Moses gesê terwyl ons nog in die woestyn rondgetrek het. Wel, kyk na my, ek is nou ’n man van 85 en ek is nog net so sterk soos die eerste dag toe Moses my die land in gestuur het. Ek is nog tot enigiets in staat, selfs om oorlog toe te gaan. My versoek is dat jy nou vir my die berggebied sal gee waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy sal onthou dat die Enakiete in hulle versterkte stede daar bly, maar as die Here by my is, sal ek hulle kan verdryf soos Hy belowe het.” Hierop het Josua vir Kaleb geseën en Hebron aan hom as sy besitting gegee.
JOSUA 14:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mense uit die stam van Juda het onder leiding van Kaleb, die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua gekom by Gilgal. Kaleb het vir Josua gesê: “Jy onthou wat die HERE vir Moses, die man van God, in Kades-Barnea oor my en jou gesê het. Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die HERE, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Ek het na hom teruggekom en verslag gedoen soos ek sake gesien het. Die ander mense wat saam met my gegaan het, het die volk bang gepraat om na die land toe te gaan. Ek het volledig by die HERE my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort. Jy het volledig op God vertrou.’ “Die HERE het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ’n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terugkom. Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die HERE daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat die Enakiete daar in groot, versterkte stede bly. As die HERE by my is, sal ek hulle daar kan uitdryf soos die HERE beloof het.” Josua het hom geseën. Hy het Hebron vir Kaleb, die seun van Jefunne, gegee.
JOSUA 14:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Toe die mense van Juda by Josua in Gilgal kom, het Kaleb, seun van Jefunne, 'n Kenissiet, vir Josua gesê: “Jy wéét wat die Here in Kades-Barnea oor my en jou gesê het. Die Here het dit vir Moses, die man van God, gesê. Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die Here, vir my van Kades-Barnea gestuur het om te kyk hoe die land is. Ek moes eerlik vir hom kom sê wat ek gesien het. Die manne wat saam met my gegaan het, het dinge gesê wat die mense bang gemaak het, maar ek self het aangehou om my God die Here te dien. Moses het daardie dag vir my belowe en hy het gesê die Here is die getuie. Moses het gesê: ‘Die land wat jy gesien het, sal altyd jou land en jou nageslag se land wees omdat jy aangehou het om die Here te dien.’ Daarom, die Here het my laat aanhou lewe hierdie 45 jaar nadat die Here dit vir Moses gesê het toe die Israeliete deur die woestyn geloop het. Ek is nou 85 jaar oud, maar ek is nou nog so sterk soos die dag toe Moses my gestuur het. Ek het nou nog die krag wat ek toe gehad het, ek kan nog oorlog maak en ek gaan en kom soos ek wil. En nou moet jy vir my hierdie bergland gee wat die Here daardie dag belowe het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enak-mense woon en dat daar groot stede is wat sterk mure het. Miskien sal die Here my help sodat ek hulle kan oorwin, die Here het dit belowe.” Josua het vir Kaleb seun van Jefunne geseën en hy het vir Kaleb die stad Hebron gegee.
JOSUA 14:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het die kinders van Juda nader gekom na Josua in Gilgal, en Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, het vir hom gesê: U weet die woord wat die HERE met Moses, die man van God in Kades-Barnéa gespreek het met betrekking tot my en met betrekking tot u. Veertig jaar was ek oud toe Moses, die kneg van die HERE, my uitgestuur het van Kades-Barnéa af om die land te verken, en ek het hom berig gebring soos dit in my hart was; maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat versmelt, terwyl ek volgehou het om die HERE my God te volg. En dié dag het Moses gesweer en gesê: Waarlik, die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as 'n erfdeel behoort, omdat jy volgehou het om die HERE my God te volg. En nou, kyk, die HERE het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf-en-veertig jaar sedert die HERE hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan. Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee.
JOSUA 14:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe kom die kinders van Juda by Josua in Gilgal, en Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenesiet, het vir hom gesê: Jy weet wat die HERE aan Moses, die man van God, oor my en jou in Kades-Barnéa gesê het. Ek was veertig jaar oud toe Moses, die kneg van die HERE, my van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te verken; en ek het hom weer verkondig soos dit in my hart was. Maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat smelt, maar ek het die HERE my God volkome gevolg. En Moses het op dié dag gesweer en gesê: Waarlik, die land waarop jou voete getrap het, sal jou erfdeel en jou kinders s'n wees tot in ewigheid, want jy het die HERE my God voluit gevolg. En nou, kyk, die HERE het my in die lewe gehou, soos Hy gesê het, hierdie vyf en veertig jaar, vandat die HERE hierdie woord met Moses gespreek het, terwyl die kinders van Israel in die woestyn rondgedwaal het; en nou, kyk, dit is Ek. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my gestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou vir oorlog, om uit te trek sowel as om in te gaan. Gee my dan nou hierdie berg waarvan die HERE in dié dag gespreek het; want jy het in dié dag gehoor hoe die Enakiete daar was en dat die stede groot en omheinde was; as die HERE met my is, dan sal Ek hulle kan verdryf, soos die HERE gespreek het. En Josua het hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefunne, Hebron as 'n erfdeel gegee.