Josua 14

14
Israelitiese gebiede wes van die Jordaan
1Die volgende is die gebiede wat die Israeliete in die land Kanaän as erfdeel ontvang het, wat Eleasar, die priester, en Josua, seun van Nun, asook die familiehoofde van die stamme van die Israeliete, as erfdeel aan hulle toegewys het 2 deur loting oor hulle erfdeel, soos die Here by monde van Moses opdrag gegee het oor die nege en 'n half stamme. 3 Moses het immers die erfdeel van die twee stamme en die halwe stam oorkant die Jordaan aan hulle gegee, maar vir die Leviete het hy nie 'n erfdeel tussen hulle gegee nie. 4Die nageslag van Josef was immers twee stamme, Manasse en Efraim. Aan die Leviete is nie 'n aandeel in die land gegee nie, behalwe dorpe om in te woon en meentgrond vir hulle vee en bates. 5Soos die Here Moses beveel het, so het die Israeliete gemaak en die land verdeel.
Toekenning van Hebron aan Kaleb
6Die nageslag van Juda het Josua in Gilgal genader, en Kaleb, seun van Jefunne, van die familie van Kenas, het vir hom gesê: “Jy self is bewus van die woorde wat die Here vir Moses, die man van God, gesê het oor my en oor jou in Kades-Barnea. 7 Ek was veertig jaar oud toe Moses, die dienskneg van die Here, my uit Kades-Barnea gestuur het om die land te verken, en ek het aan hom verslag gedoen volgens my oortuiging. 8My volksgenote wat saam met my opgetrek het, het egter die harte van die volk ineen laat krimp, maar ek het die Here my God met volharding gevolg. 9 Moses het daardie dag 'n eed afgelê, ‘Die grond waarop jou voet getrap het, aan jou sal dit as erfenis behoort, en aan jou nageslag vir altyd, omdat jy die Here my God met volharding gevolg het.’
10“En nou, kyk, die Here het my laat leef, soos Hy gesê het, nou reeds vyf-en-veertig jaar nadat die Here hierdie woorde vir Moses gesê het toe Israel nog in die woestyn rondgetrek het. En nou, kyk, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud. 11Ek is vandag nog so sterk soos op die dag toe Moses my uitgestuur het. Soos my krag toe was, so is my krag nou nog om vir oorlog uit te trek en terug te keer. 12Gee dan nou hierdie berggebied vir my, soos die Here daardie dag gesê het. Jy het immers self op daardie dag gehoor dat die Enakiete daar is met groot versterkte stede. Miskien is die Here met my, dan sal ek hulle verdryf, soos die Here gesê het.”
13Josua het hom geseën en Hebron aan Kaleb, seun van Jefunne, gegee as erfdeel. 14Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, seun van Jefunne, van die familie van Kenas; dit is vandag nog so. Want hy het die Here, die God van Israel, met volharding gevolg. 15Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die grootste onder die Enakiete.
Die land het toe gerus van oorlog.

Tans Gekies:

Josua 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Videos for Josua 14