JOSUA 14

14
Die land word verdeel
1Hier volg nou ’n lys van die grond wat die ander stamme in die land Kanaän gekry het. Die priester Eleasar en Josua, die seun van Nun, het saam met die stamhoofde die grond verdeel. 2Die deel wat elkeen van die nege en ’n half stamme ontvang het, is deur loting bepaal, soos die Here deur Moses beveel het. 3Moses het reeds vir die ander twee en ’n half stamme gebied oorkant die Jordaan gegee. Hy het nie vir die Leviete grond saam met die ander gegee nie. 4Josef se nageslag het uit die twee stamme Manasse en Efraim bestaan. Die Leviete het nie ’n deel gekry nie, maar wel dorpe om in te woon met weidingsgebied vir hulle vee. 5Die Israeliete het gemaak soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het die land onder mekaar verdeel.
Kaleb kry Hebron
6Mense uit die stam van Juda het onder leiding van Kaleb, die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua gekom by Gilgal. Kaleb het vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, in Kades-Barnea oor my en jou gesê het. 7Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Ek het na hom teruggekom en verslag gedoen soos ek sake gesien het. 8Die ander mense wat saam met my gegaan het, het die volk bang gepraat om na die land toe te gaan. Ek het volledig by die Here my God gestaan. 9Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort. Jy het volledig op God vertrou.’
10“Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ’n man van 85. 11Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terugkom. 12Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat die Enakiete daar in groot, versterkte stede bly. As die Here by my is, sal ek hulle daar kan uitdryf soos die Here beloof het.”
13Josua het hom geseën. Hy het Hebron vir Kaleb, die seun van Jefunne, gegee. 14Hebron behoort vandag nog steeds aan die nageslag van Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy volkome op die Here die God van Israel vertrou het. 15Hebron se naam was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van ’n groot held onder die Enakiete.
Die land het tot rus gekom, want die oorlog was verby.

Tans Gekies:

JOSUA 14: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan