JOB 33:13-29

JOB 33:13-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van 'n mens nie antwoord nie? WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie. OOK word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente, sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys. Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit. Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte. Is daar dan vir hom 'n gesant, 'n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee; en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het 'n losprys gevind — dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid. Hy bid tot God, en Hy het 'n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid. Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig. Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met 'n mens

JOB 33:13-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Waarom voer jy met Hom 'n twisgesprek, as Hy Hom nie verweer oor al sy dade nie? Want God praat op een, ja, op twee maniere, maar die mens sien dit nie raak nie. In 'n droom, in 'n naggesig, wanneer 'n diep slaap mense oorval, en hulle insluimer op hulle beddens, dan open Hy die ore van mense, en bevestig Hy die vermanings aan hulle – om mense te laat afsien van wat hulle doen, en 'n man van hoogmoed te vrywaar, om hom weg te hou van die grafkuil, sy lewe daarvan te weerhou om die rivier oor te steek. Of hy word met pyn op sy bed tereggewys – 'n voortdurende stryd in sy gebeente, sodat sy lewe walg van kos, en hy self van begeerlike voedsel. Sy liggaam teer weg, raak onaansienlik; sy gebeente, wat onsigbaar was, word ontbloot. Hy beweeg self nader aan die grafkuil, sy lewe beweeg nader aan hulle wat die dood bring. As daar by hom 'n engel is, 'n voorspraak, een van die duisende, om vir die mens oor sy opregtheid te getuig, en dié hom genadig is en sê, ‘Bevry hom daarvan om na die grafkuil af te daal, ek het 'n losprys vir hom gekry,’ word sy liggaam lewenskragtiger as dié van 'n jong man, keer hy terug na die dae van sy jeug. Wanneer hy by God pleit, aanvaar Hy hom; hy ervaar God se teenwoordigheid met 'n uitroep van vreugde, en God herstel die sterfling se geregtigheid. So iemand kyk na mense en sê: ‘Ek het gesondig en die reg verdraai, maar daar is nie met my afgereken nie. God het my vrygekoop van die oorgang na die grafkuil; en my lewe mag hom in die lig verlustig.’ “Kyk, al hierdie dinge doen God selfs twee of drie maal met 'n man

JOB 33:13-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Waarom stry jy teen hom? want hy gee geen rekenskap van enige van sy sake nie. Want God spreek een keer, ja twee keer, maar die mens sien dit nie. In 'n droom, in 'n naggesig, wanneer diepe slaap oor die mense val, in sluimering op die bed; Dan maak Hy die ore van die mense oop en verseël hulle tug, sodat hy die mens van sy voorneme kan onttrek en hoogmoed vir die mens kan verberg. Hy bewaar sy siel uit die kuil en sy lewe om deur die swaard te vergaan. Hy word ook getugtig met pyn op sy bed, en die menigte van sy gebeente met sterk pyn; Sodat sy lewe 'n afsku het van brood en sy siel 'n afsku van lekker spys. Sy vlees is verteer, sodat dit nie gesien kan word nie; en sy bene wat nie gesien is nie, steek uit. Ja, sy siel nader tot die doderyk en sy lewe na die verderwers. As daar 'n boodskapper by hom is, 'n tolk, een uit die duisend, om aan die mens sy opregtheid te toon; Daarna is hy hom genadig en sê: Verlos hom van afdaal in die kuil: Ek het 'n losprys gevind. Sy vlees sal varser wees as 'n kind s'n; hy sal terugkeer na die dae van sy jeug; Hy sal tot God bid, en Hy sal Hom welgevallig wees; en Hy sal sy aangesig met blydskap sien, want Hy sal aan die mens sy geregtigheid vergeld. Hy kyk na die mense, en as iemand sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg was, en dit het my niks gebaat nie; Hy sal sy siel verlos daarvan om in die kuil te gaan, en sy lewe sal die lig sien. Kyk, al hierdie dinge werk God dikwels met die mens

JOB 33:13-29 Die Boodskap (DB)

Hoe kan jy God verwyt omdat Hy jou nie antwoord op alles wat jy gesê het nie? God praat op verskillende maniere met mense, maar hulle besef dit nie altyd nie. Vir party mense sal God ’n droom of ’n gesig in die nag gee as hulle vas op hulle bed lê en slaap. Op so ’n manier gee die Here dan vir hulle ’n duidelike waarskuwing om met verkeerde dinge op te hou en nie te veel van hulleself te dink nie. So probeer Hy keer dat mense doodgaan en in die graf eindig. “Ander kere weer probeer God mense reghelp deur siekte en pyn wat net nie ophou nie. Hulle verloor dan selfs hulle eetlus en wil nie eers van die lekkerste kos eet nie. Op die ou einde is hulle net vel en been, so maer is hulle. So beland hulle op die randjie van die graf, amper op die laaste van hulle lewe. “Daar is duisende spesiale boodskappers in die hemel. Hulle praat baiekeer namens ’n mens met God. As een van hulle net vir ’n mens kan wys wat reg is, sal God nie hard met so iemand werk nie. Hy sal sê: ‘Red hom dat hy nie doodgaan nie, want daar is ’n losprys vir sy lewe betaal.’ Dan sal sy liggaam weer fris en sterk voel soos toe hy jonk was. As hy bid, sal God hom antwoord. Hy sal die Here met groot blydskap aanbid. God sal weer die verhouding tussen hulle regmaak. Hy sal vir die mense vertel: ‘Ek het verkeerde dinge gedoen. Ek het my nie gesteur aan wat reg is nie, maar dit het my niks in die sak gebring nie. Dit was nie die moeite werd om so te leef nie. Maar God het gesorg dat ek nie in die dood beland het nie. Hy het my losgekoop. Nou lewe ek en kan ek die lig geniet.’ “Dit is wat God vir mense doen. Hy doen dit selfs twee of drie keer vir hulle.