JOB 33:13-29

JOB 33:13-29 NLV

Nou, waarom bring jy dan ’n klag teen Hom? Jy sê: ‘Hy luister nie na mense nie.’ Maar God praat op verskillende maniere. Ons kom dit net nie agter nie. Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap en op hulle beddens lê. Hy fluister in hulle ore en verskrik hulle met sy waarskuwings. Hy laat mense van gedagte verander om hulle van verkeerde dade weg te hou, en hulle van hoogmoed te weerhou. Hy red hulle van die graf, van die diep rivier van die dood. Soms praat Hy met mense deur ernstige siekte op ’n siekbed, as pyn aan hulle liggaam knaag. Dan verloor mense hulle eetlus. Die lekkerste kos walg hulle. Hulle is later net vel en been. Hulle staan met die een voet in die graf. Die dood wag vir hulle. “Maar as ’n hemelse boodskapper, ’n baie unieke een, intree vir so ’n persoon en hom regverdig verklaar, sal God hom genadig wees en sê: ‘Laat hom vry. Moenie dat hy sterf nie, want Ek het ’n losprys gevind vir sy lewe.’ Dan word sy liggaam weer so gesond soos dié van ’n kind, ferm en jeugdig soos toe hy jonk was. As hy bid tot God, sal Hy hom aanvaar. God sal hom met vreugde ontvang, en hom ’n mens maak wat reg lewe. Hy sal vir sy vriende sê: ‘Ek het gesondig en verkeerd gedoen, maar God het my nie gestraf soos wat ek verdien het nie. God het my gered van die graf, en nou is my lewe gevul met lig.’ “Ja, God doen al hierdie dinge vir mense, weer en weer.