JOB 33:13-29

JOB 33:13-29 AFR53

Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van 'n mens nie antwoord nie? WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie. OOK word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente, sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys. Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit. Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte. Is daar dan vir hom 'n gesant, 'n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee; en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het 'n losprys gevind — dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid. Hy bid tot God, en Hy het 'n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid. Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig. Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met 'n mens