JESAJA 30:12-33
JESAJA 30:12-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie. So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees. Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi; jy sal sê: “Weg met hulle!” Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld. Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol water wees. Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam. Die Here verskyn uit die verte; sy toorn breek los, onweer dreig; as Hy praat, is dit vol gramskap, sy woorde is vlamme van vuur. Sy asem is 'n siedende stroom wat mense meesleur. Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif, om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor 'n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Die Here sal sy magtige stem laat hoor, Hy sal sy krag openbaar in gloeiende toorn, verterende vuur, storm, onweer en hael. Assirië sal sidder vir die stem van die Here wanneer Hy begin slaan, en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom en hom tref, sal die simbale en die liere weerklink. Die Here sal self teen Assirië veg. Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al; dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië. Daar is 'n groot hoop brandhout in en die asem van die Here steek dit aan die brand soos 'n stroom swael.
JESAJA 30:12-33 Bybel vir almal (ABA)
Daarom sê die Heilige God van Israel nou: “Julle het nie geluister na wat Ek vir julle gesê het nie, julle het gedink dit is reg om mense te verdruk en te bedrieg. Daarom sal hierdie sonde word soos 'n stukkende plek in 'n hoë muur wat nie regop is nie. Die muur sal skielik omval en stukkend breek soos 'n kleipot wanneer iemand die pot stukkend slaan. Daar sal nie een stuk van die pot oorbly om kole uit 'n vuur te krap, of om water uit 'n dam te skep nie.” Die Here, die Heilige God van Israel, het gesê: “As julle terugkom na My toe en veilig voel by My, dan sal Ek julle red. As julle stilbly en My glo en vertrou, dan sal Ek julle help. Maar julle wou dit nie doen nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons vlug op perde, ons sal op vinnige perde ry.’ Daarom sál julle vlug, maar die mense wat vir julle wil vang, sal vinniger as julle ry. Duisend van julle sal vlug vir een van die vyand se manne, en as daar vyf van die vyand se manne kom, dan sal julle aanhou vlug totdat net 'n paar van julle oorbly. Julle sal wees soos 'n paal of soos 'n vlag wat alleen bo-op 'n berg staan.” Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Ja, volk wat in Sion woon, in Jerusalem, julle sal nooit weer huil nie. Wanneer julle die Here roep en vra Hy moet julle help, dan sal Hy weer goed wees vir julle. Dit is seker. Wanneer Hy hoor julle bid, dan sal Hy dadelik antwoord. Die Here het julle laat swaarkry, maar Hy sal nou by julle wees. Hy sal vir julle leer wat om te doen, en julle sal Hom sien. Wanneer julle op die verkeerde pad loop, dan sal julle hoor dat Hy agter julle praat. Hy sal sê: “Nee, hier is die regte pad, julle moet hier loop.” Dan sal julle weet dat die beelde onrein is, die beelde van afgode wat julle oorgetrek het met silwer en goud. Julle sal hulle weggooi soos vuil lappe en julle sal sê: “Ons wil hulle nie weer sien nie!” Die Here sal reën gee wanneer julle saad in die grond saai, en die koring sal goed groei in die grond, die koringkorrels sal gesond en vet wees. Julle skape en bokke sal baie plek hê om te wei. Julle beeste en donkies wat op die koringland werk, sal kos vreet wat julle in water sag gemaak het, kos wat julle met 'n graaf en 'n vurk gemeng het. Op elke hoë berg, elke hoë heuwel, sal daar waterstrome wees. Die Here sal al sy vyande doodmaak. Daardie dag wanneer die torings in die mure van hulle stede omval, dan sal die lig van die maan helder skyn soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewe maal sterker skyn. Die lig sal so sterk wees soos die lig van sewe dae saam. Dan sal die Here die seerplekke van sy volk toedraai en Hy sal die kneusplekke gesond maak, die plekke waar Hy hulle geslaan het. Kyk, die Here kom van ver. Hy is baie kwaad. Wanneer Hy praat, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Sy asem is soos 'n sterk stroom water, dit is so diep dat dit tot by 'n mens se nek kom. Hy sal die ander volke straf, Hy sal hulle sif met 'n fyn sif, Hy sal vir hulle 'n toom aansit en Hy sal hulle laat verdwaal. Mense van Jerusalem, dan sal julle sing, julle sal sing soos wanneer julle feesvier in die nag. Julle sal sing soos wanneer julle die fluit speel en na die berg van die Here gaan, na die Rots van Israel. Die Here is kwaad, Hy sal hard praat. Hy maak gereed om die Assiriërs te straf. Daar sal vuur wees en baie harde reën, donderweer en hael. Ja, die Assiriërs sal bewe wanneer die Here praat, wanneer Hy begin om hulle te straf. En elke maal wanneer die Here hulle straf, sal julle op die tamboeryne en die liere speel. Die Here sal oorlog maak teen Assirië. Die Here het lank gelede die hout reggepak om 'n vuur te maak. Dit is 'n groot vuur met baie hout. Die vuur sal die koning van Assirië verbrand. Die asem van die Here is soos 'n stroom swael, dit sal die vuur aan die brand steek.
JESAJA 30:12-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie. Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag! Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel. En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag! Want 'n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou. Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan. En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê. Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op 'n uitgestrekte weiveld; en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat uitgewan is met skop en gaffel; en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val. En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die HERE die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is. KYK, die Naam van die HERE kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur, en sy asem soos 'n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met 'n sif van vernietiging; en 'n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke. Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die HERE, na die Steenrots van Israel. En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van 'n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels. Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan, en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met 'n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg. Want 'n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei; diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte; die asem van die HERE is soos 'n stroom van swawel wat dit aan die brand steek.
JESAJA 30:12-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie. So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees. Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi; jy sal sê: “Weg met hulle!” Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld. Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol water wees. Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam. Die Here verskyn uit die verte; sy toorn breek los, onweer dreig; as Hy praat, is dit vol gramskap, sy woorde is vlamme van vuur. Sy asem is 'n siedende stroom wat mense meesleur. Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif, om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor 'n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Die Here sal sy magtige stem laat hoor, Hy sal sy krag openbaar in gloeiende toorn, verterende vuur, storm, onweer en hael. Assirië sal sidder vir die stem van die Here wanneer Hy begin slaan, en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom en hom tref, sal die simbale en die liere weerklink. Die Here sal self teen Assirië veg. Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al; dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië. Daar is 'n groot hoop brandhout in en die asem van die Here steek dit aan die brand soos 'n stroom swael.
JESAJA 30:12-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, so sê die Heilige van Israel: “Omdat julle hierdie woord verwerp het, vertrou het op afpersing en skelmstreke, en daarop gesteun het, daarom sal hierdie sondeskuld vir julle wees soos die bres in 'n hoë muur wat oorhel om te val, waarvan die ineenstorting skielik, onverwags, sal kom. Dit sal gebreek word soos 'n pottebakkerskruik breek – dit word genadeloos stukkend geslaan, sodat tussen die stukkies geen potskerf gevind kan word om kole uit die vuurmaakplek te haal of water uit 'n kuil te skep nie.” Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier. Julle sê, ‘Nee, maar op perde sal ons vlug’ – daarom sál julle vlug – ‘op vinniges sal ons ry’ – daarom sál julle agtervolgers wys hoe vinnig hulle is. Eenduisend van julle sal vir die dreigement van een vlug; vir die dreigement van vyf sal julle vlug, totdat daar van julle soveel oorbly soos 'n vaandel op die kruin van 'n berg, soos 'n banier op 'n heuwel.” Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die HERE; gelukkig is almal wat op Hom wag. Ja, volk wat op Sion, in Jerusalem, woon, julle sal sekerlik nie meer huil nie. Die HERE sal beslis genade aan julle bewys op julle roepstem om hulp. Wanneer Hy hoor, sal Hy julle antwoord. My Heer sal vir julle brood van kommer en water van verdrukking gee. Maar dan sal julle Groot Leermeester Hom nie meer vir julle verberg nie; julle eie oë sal julle Groot Leermeester sien. Met julle ore sal julle 'n woord agter julle hoor: “Hier is die pad, gaan daarop, wanneer julle regs of links wil hou!” Dan sal julle die plaatwerk van julle silwerafgodsbeelde, en die bedekking van julle vergulde gegote beelde onrein verklaar. Julle sal dit weggooi as iets wat besoedel is. “Gemors!” sal jy daarvoor sê. Hy sal reën gee vir jou saad wat jy in die grond saai, en die opbrengs van die grond sal voedsel wees – dit sal geil en vet wees. Jy sal jou vee op daardie dag laat wei – 'n uitgestrekte weiveld. Die beeste en donkiehingste wat die grond bewerk, sal goeie voer eet, voer wat uitgewan is met 'n houtgraaf en gaffel. Op elke hoë berg en elke verhewe heuwel sal daar leivore, watervore, wees, op die dag van die groot slagting wanneer torings val. Die lig van die volmaan sal wees soos die lig van die helder son, en die lig van die helder son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag wanneer die HERE die gebreekte plekke van sy volk verbind, en die wonde wat Hy toegedien het, genees. Kyk, die Naam van die HERE kom van ver, sy toorn brand, dit laai op. Sy lippe is vol vervloeking, sy tong 'n verterende vuur. Sy asem is soos 'n stroom in vloed – tot by die nek reik dit. Hy is daarop uit om nasies te skud in die sif van vernietiging. Hy sit teuels wat mislei aan die kake van volke. Vir julle sal daar sang wees soos in die nag van heiliging voor 'n fees – met vreugde in die hart soos in 'n optog met fluite, op pad na die berg van die HERE, na die Rots van Israel. Die HERE sal sy majestueuse stem laat hoor, die neerkom van sy arm laat sien in heftige striemende toorn – 'n vlam van verterende vuur, gietende reën, stortbuie en haelstene. Ja, vanweë die stem van die HERE sal Assirië verskrik wees – met 'n stok sal Hy hom slaan. Elke hou van die staf wat straf, wat die HERE op hom laat neerkom, sal onder tamboeryn- en lierspel plaasvind. Met sy oorlogstuig sal Hy met opgeligte hand teen die land veg. Ja, 'n brandstapel is lankal reeds gepak; dit is ook vir die koning gereedgemaak – diep en wyd – 'n stapel, met vuur en hout in oorvloed; die asem van die HERE brand soos 'n stroom swawel daarin.
JESAJA 30:12-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verag en op verdrukking en verdraaidheid vertrou en daarop bly; Daarom sal hierdie ongeregtigheid vir julle wees soos 'n breuk wat gereed is om te val, wat opswel in 'n hoë muur, waarvan die verbreking skielik in 'n oomblik kom. En hy moet dit breek soos die breek van die pottebakkersvoorwerp wat stukkend gebreek word; hy sal nie spaar nie, sodat daar in sy bars geen skerf gevind sal word om vuur uit die vuurherd te haal of om water uit die put te haal nie. Want so sê die HERE HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus sal julle gered word; in stilte en vertroue sal julle krag wees, en julle wou nie. Maar julle het gesê: Nee; want ons sal op perde vlug; daarom sal julle vlug, en: Ons sal op die vinniges ry; daarom sal die wat jou agtervolg haastig wees. Duisend sal vlug vir die teregwysing van een; vir die bestraffing van vyf sal julle vlug, totdat julle oorbly soos 'n baken op die top van 'n berg en soos 'n banier op 'n heuwel. En daarom sal die HERE wag dat Hy julle genadig kan wees, en daarom sal Hy verhoog word, dat Hy Hom oor julle kan ontferm; want die HERE is 'n God van oordeel; geseënd is almal wat op Hom wag. Want die volke sal in Sion in Jerusalem woon; jy mag nie meer ween nie; as hy dit hoor, sal hy jou antwoord. En al gee die HERE julle die brood van benoudheid en die water van ellende, tog sal jou leraars nie meer in 'n hoek wankel nie, maar jou oë sal jou leraars sien. En jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop as julle regs en as julle links draai. En julle moet die bedekking van jou gesnede beelde van silwer en die versiering van jou gegote beelde van goud verontreinig; jy moet daarvoor sê: Gaan weg. Dan sal hy die reën van jou saad gee, dat jy die grond daarmee kan saai; en brood van die opbrings van die aarde, en dit sal vet en oorvloedig wees; in dié dag sal jou vee wei in groot weivelde. Net so moet die osse en die jong esels wat die grond afspaar, rein voer eet wat met die graaf en met die waaier uitgewen is. En daar sal op elke hoë berg en op elke hoë heuwel riviere en waterstrome wees op die dag van die groot slagting, wanneer die torings val. Verder sal die lig van die maan wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag dat die HERE die skeuring van sy volk verbind en die beroerte genees van hul wond. Kyk, die Naam van die HERE kom van ver af, brand van sy toorn, en sy las is swaar; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur. En sy asem, soos 'n stroom wat oorloop, sal tot in die middel van die nek reik, om die nasies te sif met 'n sif van nietigheid; en daar sal 'n toom wees in die kakebeen van die volke wat hulle laat dwaal. Julle sal 'n lied hê soos in die nag wanneer 'n heilige plegtigheid gehou word; en blydskap van hart, soos wanneer 'n mens met 'n pyp gaan om op die berg van die HERE te kom, na die Magtige van Israel. En die HERE sal sy heerlike stem laat hoor en die verligting van sy arm verkondig, met die grimmigheid van sy toorn en met die vlam van 'n verterende vuur, met verstrooiing en storm en haelstene. Want deur die stem van die HERE sal die Assiriër verslaan word wat met 'n stok geslaan het. En op elke plek waar die gegronde staf verbygaan wat die HERE op hom sal lê, sal dit wees met tromme en siters; en in veldslae van bewing sal Hy daarmee veg. Want Tofet is van ouds af aangestel; ja, vir die koning is dit berei; hy het dit diep en groot gemaak; sy stapel is vuur en baie hout; die asem van die HERE, soos 'n stroom swawel, steek dit aan die brand.
JESAJA 30:12-33 Die Boodskap (DB)
Maar nou sê Israel se heilige God vir julle: “Julle het my waarskuwing verwerp omdat julle staatmaak op afpersing en bedrog. Hierdie sonde is vir julle net so gevaarlik soos ’n stadsmuur wat begin oorhang het na die een kant toe: dit val in ’n oogwink en sonder waarskuwing om. Julle sal vernietig word net soos ’n kleipot wat fyn en flenters gebreek word totdat daar nie eers ’n groot genoeg potskerf oorbly waarmee ’n mens ’n paar kooltjies uit die vuur kan skep of selfs ’n bietjie water uit ’n put kan skep nie.” Maar die Here, die heilige Regeerder van Israel, sê: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” Maar daarvan wou julle niks weet nie. “Nee wat,” het julle gesê, “Egipte sal ons help. Hulle sal vir ons vinnige perde gee waarmee ons kan wegjaag.” Dit is waar: julle sal moet wegjaag met julle vinnige perde, want julle vyande sal nog vinniger perde hê. Een van hulle soldate sal duisend van julle op die vlug laat slaan. Net vyf van hulle is genoeg om julle almal te laat weghardloop. Daar sal nie veel van julle leër oorbly nie, en die klompie wat wel oorbly, sal so verlate wees soos ’n enkele vlagpaal wat bo-op ’n berg staan. En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Luister, mense van Sion, julle wat in Jerusalem woon, julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer. Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” Dan sal julle van al julle vuil goue en silwer afgode ontslae raak. Julle sal hulle soos ou, vuil lappe weggooi en sê: “Sies, ons wil die goed nie weer sien nie!” Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees. Die osse en die donkies wat julle gebruik om mee te ploeg sal goeie kos kry wat spesiaal vir hulle voorberei is. Op die dag as julle vyande verslaan en hulle forte vernietig word, sal daar strome water van elke heuwel en berg af vloei. Dan sal die maan net so helder soos die son skyn en die son sal sewe keer skerper as gewoonlik wees, byna asof al die sonlig van sewe dae bymekaargesit is op een dag. Dit is hoe dit sal lyk op dié dag wanneer die Here sy volk se stukkende plekke verbind en die wonde wat Hy hulle toegedien het, weer gesond maak. Kyk, die Here kom van ver af. Hy is woedend kwaad. As Hy praat, is sy woorde soos weerligstrale wat vuur en rook uit die grond slaan. Sy asem is soos ’n diep stroom water wat tot by jou nek kom en jou saamsleep. Hy kom om die nasies uit te sif soos ’n mens meel sif. Hy neem hulle gevange en vat hulle waarheen Hy wil, net soos ’n mens met ’n perd maak waarvoor jy ’n toom aangesit het: hy moet loop net waarheen jy hom lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor een van die heilige feeste. Julle sal bly wees soos wanneer ’n fluitspeler die groep pelgrims na Jerusalem, na die berg van die Here toe lei; Hy, die Beskermer van Israel. Dan sal die Here sy magtige stem laat hoor en die volle krag van sy woede laat neerreën in vlamme saam met ’n wolkbreuk, ’n storm en hael. Die Assiriërs sal doodbang wees as hulle die Here se stem hoor en die mag van sy woede ervaar. En die Here se volk sal met simbale en harpe tyd hou van elke hou waarmee die Here hulle slaan. Die Here het reeds ’n groot brandstapel vir die koning van Assirië gereedgemaak. Dit is ’n wye, diep vuurmaakplek met groot stapels hout sodat dit goed kan brand. Die Here sal dit met sy asem wat soos ’n vulkaan uitbars, aan die brand steek.
JESAJA 30:12-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom antwoord die Heilige van Israel self: “Julle het my waarskuwing geïgnoreer, en eerder vertrou op leuens en bedrog. Daarom sal rampe skielik oor julle kom. Dit sal wees soos ’n muur wat oorhang en dreig om om te val. En dan skielik, onverwags, sal dit inmekaarstort. Julle sal soos ’n kleipot stukkend breek. Julle sal so fyn gebreek word dat daar nie eers ’n stukkie sal oorbly wat groot genoeg is dat ’n mens ’n kooltjie daarop kan dra, of water van die put kan skep nie.” So sê die oppermagtige HERE, die Heilige van Israel: “Eers as julle na My draai en tot rus kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word. Maar julle wou nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons hulp kom van Egipte. Hulle gee ons vinnige perde om mee te veg.’ Nou, dan sal julle vinnig ry. Maar julle agtervolgers sal vinniger wees! Een van hulle sal duisend van julle jaag. En vyf van hulle sal julle almal laat wegvlug. Julle sal bly staan soos ’n enkele vlagpaal op ’n berg, soos ’n vaandel op ’n heuwel.” HERE Tog wag die HERE gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys. Die HERE is ’n God wat regverdig is. Hy seën die mens wat op Hom vertrou vir hulp. Volk van Sion, wat in Jerusalem woon, julle sal nie meer huil nie. Hy sal genade aan julle bewys as julle Hom vra om julle te help. Hy sal dadelik reageer as julle na Hom roep. Die HERE het jou brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink. Maar Hy sal nog by jou wees om jou te leer. Jy sal Hom met jou eie oë sien, die Een wat jou leer. Jy sal ’n stem hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” Daardie dag sal jy al jou silwer afgode en goue beelde stukkend slaan. Jy sal hulle weggooi soos smerige klere. “Aaklig!” sal jy sê. “Weg daarmee!” Dan sal die HERE jou seën. Jy sal genoeg reën kry wanneer jy plant. Daar sal groot oeste wees en baie weiveld vir jou vee. Die beeste en die donkies wat die grond omploeg, sal die beste graan vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. Daardie dag sal jou vyande vernietig word. Hulle torings sal omgegooi word. Daar sal strome waters wees wat van elke berg en heuwel af kom. Die maan sal so skerp wees soos die son. En die son sal sewe keer helderder wees. Dit sal lyk soos die son van sewe dae. So sal dit wees die dag wanneer die HERE sy volk begin genees en die seerplekke verbind waar Hy hulle geslaan het. Kyk! Die HERE kom uit die verte. Sy woede breek los, omring deur donker wolke soos rook. Sy lippe is vol wraak. Sy woorde verteer soos vuur. Sy woede kom soos vloedwater oor sy vyand. Hy voer hulle weg en sif die trotse nasies. Hy gaan ’n toom aan hulle sit en hulle weglei om hulle te vernietig. Maar julle sal sing, van blydskap soos wanneer julle feesvier. Julle sal so bly wees soos wanneer ’n fluitspeler ’n groep pelgrims begelei na Jerusalem, op pad na die berg van die HERE, na die Rots van Israel. En die HERE sal roep met ’n magtige stem. Woedend sal Hy sy vyande platslaan. Hy sal hulle bykom met verterende vlamme, met ’n wolkbreuk, met donderstorms en reuse haelstene. Hy sal hulle vernietig. Die stem van die HERE sal Assirië verpletter. Met sy septer sal Hy hulle platslaan. En wanneer Hy hulle slaan met sy roede, sal sy volk tydhou met musiek van simbale en liere. Die HERE self sal teen hulle veg met sy magtige arm. Die brandoond is lankal klaar vir die Assiriese koning. ’n Groot hoop hout is reggesit daarvoor. Die asem van die HERE sal dit aan die brand steek soos die vuur van ’n vulkaan.