Jesaja 30:12-33

Jesaja 30:12-33 ABA

Daarom sê die Heilige God van Israel nou: “Julle het nie geluister na wat Ek vir julle gesê het nie, julle het gedink dit is reg om mense te verdruk en te bedrieg. Daarom sal hierdie sonde word soos 'n stukkende plek in 'n hoë muur wat nie regop is nie. Die muur sal skielik omval en stukkend breek soos 'n kleipot wanneer iemand die pot stukkend slaan. Daar sal nie een stuk van die pot oorbly om kole uit 'n vuur te krap, of om water uit 'n dam te skep nie.” Die Here, die Heilige God van Israel, het gesê: “As julle terugkom na My toe en veilig voel by My, dan sal Ek julle red. As julle stilbly en My glo en vertrou, dan sal Ek julle help. Maar julle wou dit nie doen nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons vlug op perde, ons sal op vinnige perde ry.’ Daarom sál julle vlug, maar die mense wat vir julle wil vang, sal vinniger as julle ry. Duisend van julle sal vlug vir een van die vyand se manne, en as daar vyf van die vyand se manne kom, dan sal julle aanhou vlug totdat net 'n paar van julle oorbly. Julle sal wees soos 'n paal of soos 'n vlag wat alleen bo-op 'n berg staan.” Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Ja, volk wat in Sion woon, in Jerusalem, julle sal nooit weer huil nie. Wanneer julle die Here roep en vra Hy moet julle help, dan sal Hy weer goed wees vir julle. Dit is seker. Wanneer Hy hoor julle bid, dan sal Hy dadelik antwoord. Die Here het julle laat swaarkry, maar Hy sal nou by julle wees. Hy sal vir julle leer wat om te doen, en julle sal Hom sien. Wanneer julle op die verkeerde pad loop, dan sal julle hoor dat Hy agter julle praat. Hy sal sê: “Nee, hier is die regte pad, julle moet hier loop.” Dan sal julle weet dat die beelde onrein is, die beelde van afgode wat julle oorgetrek het met silwer en goud. Julle sal hulle weggooi soos vuil lappe en julle sal sê: “Ons wil hulle nie weer sien nie!” Die Here sal reën gee wanneer julle saad in die grond saai, en die koring sal goed groei in die grond, die koringkorrels sal gesond en vet wees. Julle skape en bokke sal baie plek hê om te wei. Julle beeste en donkies wat op die koringland werk, sal kos vreet wat julle in water sag gemaak het, kos wat julle met 'n graaf en 'n vurk gemeng het. Op elke hoë berg, elke hoë heuwel, sal daar waterstrome wees. Die Here sal al sy vyande doodmaak. Daardie dag wanneer die torings in die mure van hulle stede omval, dan sal die lig van die maan helder skyn soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewe maal sterker skyn. Die lig sal so sterk wees soos die lig van sewe dae saam. Dan sal die Here die seerplekke van sy volk toedraai en Hy sal die kneusplekke gesond maak, die plekke waar Hy hulle geslaan het. Kyk, die Here kom van ver. Hy is baie kwaad. Wanneer Hy praat, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Sy asem is soos 'n sterk stroom water, dit is so diep dat dit tot by 'n mens se nek kom. Hy sal die ander volke straf, Hy sal hulle sif met 'n fyn sif, Hy sal vir hulle 'n toom aansit en Hy sal hulle laat verdwaal. Mense van Jerusalem, dan sal julle sing, julle sal sing soos wanneer julle feesvier in die nag. Julle sal sing soos wanneer julle die fluit speel en na die berg van die Here gaan, na die Rots van Israel. Die Here is kwaad, Hy sal hard praat. Hy maak gereed om die Assiriërs te straf. Daar sal vuur wees en baie harde reën, donderweer en hael. Ja, die Assiriërs sal bewe wanneer die Here praat, wanneer Hy begin om hulle te straf. En elke maal wanneer die Here hulle straf, sal julle op die tamboeryne en die liere speel. Die Here sal oorlog maak teen Assirië. Die Here het lank gelede die hout reggepak om 'n vuur te maak. Dit is 'n groot vuur met baie hout. Die vuur sal die koning van Assirië verbrand. Die asem van die Here is soos 'n stroom swael, dit sal die vuur aan die brand steek.