Daarom, so sê die Heilige
van Israel:
“Omdat julle hierdie woord
verwerp het,
vertrou het op afpersing
en skelmstreke,
en daarop gesteun het,
daarom sal hierdie sondeskuld
vir julle wees soos die bres
in 'n hoë muur wat oorhel
om te val,
waarvan die ineenstorting
skielik, onverwags, sal kom.
Dit sal gebreek word
soos 'n pottebakkerskruik breek –
dit word genadeloos
stukkend geslaan,
sodat tussen die stukkies
geen potskerf gevind kan word
om kole uit die vuurmaakplek
te haal of water uit 'n kuil
te skep nie.”
Want so sê my Heer, die HERE,
die Heilige van Israel:
“In bekering en rustigheid
lê julle redding,
in kalmte en vertroue lê julle krag;
maar julle weier.
Julle sê,
‘Nee, maar op perde sal ons vlug’
– daarom sál julle vlug –
‘op vinniges sal ons ry’
– daarom sál julle agtervolgers
wys hoe vinnig hulle is.
Eenduisend van julle sal
vir die dreigement van een vlug;
vir die dreigement van vyf
sal julle vlug,
totdat daar van julle
soveel oorbly soos 'n vaandel
op die kruin van 'n berg,
soos 'n banier op 'n heuwel.”
Om dié rede wag die HERE
om aan julle genade te betoon;
om dié rede rig Hy Hom op
om Hom oor julle te ontferm.
Want die God van reg is die HERE;
gelukkig is almal wat op Hom wag.
Ja, volk wat op Sion,
in Jerusalem, woon,
julle sal sekerlik nie meer huil nie.
Die HERE sal beslis genade
aan julle bewys
op julle roepstem om hulp.
Wanneer Hy hoor,
sal Hy julle antwoord.
My Heer sal vir julle
brood van kommer
en water van verdrukking gee.
Maar dan sal julle Groot
Leermeester Hom nie meer
vir julle verberg nie;
julle eie oë sal julle Groot
Leermeester sien.
Met julle ore sal julle
'n woord agter julle hoor:
“Hier is die pad, gaan daarop,
wanneer julle regs of links wil hou!”
Dan sal julle die plaatwerk
van julle silwerafgodsbeelde,
en die bedekking van julle
vergulde gegote beelde
onrein verklaar.
Julle sal dit weggooi
as iets wat besoedel is.
“Gemors!” sal jy daarvoor sê.
Hy sal reën gee vir jou saad
wat jy in die grond saai,
en die opbrengs van die grond
sal voedsel wees –
dit sal geil en vet wees.
Jy sal jou vee op daardie dag
laat wei –
'n uitgestrekte weiveld.
Die beeste en donkiehingste
wat die grond bewerk,
sal goeie voer eet,
voer wat uitgewan is
met 'n houtgraaf en gaffel.
Op elke hoë berg
en elke verhewe heuwel
sal daar leivore, watervore, wees,
op die dag van die groot
slagting wanneer torings val.
Die lig van die volmaan sal wees
soos die lig van die helder son,
en die lig van die helder son
sal sewevoudig wees,
soos die lig van sewe dae,
op die dag wanneer die HERE
die gebreekte plekke
van sy volk verbind,
en die wonde wat Hy
toegedien het, genees.
Kyk, die Naam van die HERE
kom van ver,
sy toorn brand, dit laai op.
Sy lippe is vol vervloeking,
sy tong 'n verterende vuur.
Sy asem is soos 'n stroom
in vloed –
tot by die nek reik dit.
Hy is daarop uit om nasies te skud
in die sif van vernietiging.
Hy sit teuels wat mislei
aan die kake van volke.
Vir julle sal daar sang wees
soos in die nag van heiliging
voor 'n fees –
met vreugde in die hart
soos in 'n optog met fluite,
op pad na die berg van die HERE,
na die Rots van Israel.
Die HERE sal sy majestueuse
stem laat hoor,
die neerkom van sy arm laat
sien in heftige striemende toorn –
'n vlam van verterende vuur,
gietende reën,
stortbuie en haelstene.
Ja, vanweë die stem van die HERE
sal Assirië verskrik wees –
met 'n stok sal Hy hom slaan.
Elke hou van die staf wat straf,
wat die HERE op hom
laat neerkom,
sal onder tamboeryn-
en lierspel plaasvind.
Met sy oorlogstuig
sal Hy met opgeligte hand
teen die land veg.
Ja, 'n brandstapel
is lankal reeds gepak;
dit is ook vir die koning gereedgemaak
– diep en wyd –
'n stapel, met vuur en hout
in oorvloed;
die asem van die HERE brand
soos 'n stroom swawel daarin.