JESAJA 30:12-33

JESAJA 30:12-33 AFR83

So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie. So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees. Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi; jy sal sê: “Weg met hulle!” Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld. Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol water wees. Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam. Die Here verskyn uit die verte; sy toorn breek los, onweer dreig; as Hy praat, is dit vol gramskap, sy woorde is vlamme van vuur. Sy asem is 'n siedende stroom wat mense meesleur. Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif, om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor 'n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Die Here sal sy magtige stem laat hoor, Hy sal sy krag openbaar in gloeiende toorn, verterende vuur, storm, onweer en hael. Assirië sal sidder vir die stem van die Here wanneer Hy begin slaan, en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom en hom tref, sal die simbale en die liere weerklink. Die Here sal self teen Assirië veg. Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al; dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië. Daar is 'n groot hoop brandhout in en die asem van die Here steek dit aan die brand soos 'n stroom swael.