JESAJA 30:12-33

JESAJA 30:12-33 NLV

Daarom antwoord die Heilige van Israel self: “Julle het my waarskuwing geïgnoreer, en eerder vertrou op leuens en bedrog. Daarom sal rampe skielik oor julle kom. Dit sal wees soos ’n muur wat oorhang en dreig om om te val. En dan skielik, onverwags, sal dit inmekaarstort. Julle sal soos ’n kleipot stukkend breek. Julle sal so fyn gebreek word dat daar nie eers ’n stukkie sal oorbly wat groot genoeg is dat ’n mens ’n kooltjie daarop kan dra, of water van die put kan skep nie.” So sê die oppermagtige HERE, die Heilige van Israel: “Eers as julle na My draai en tot rus kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word. Maar julle wou nie. Julle het gesê: ‘Nee, ons hulp kom van Egipte. Hulle gee ons vinnige perde om mee te veg.’ Nou, dan sal julle vinnig ry. Maar julle agtervolgers sal vinniger wees! Een van hulle sal duisend van julle jaag. En vyf van hulle sal julle almal laat wegvlug. Julle sal bly staan soos ’n enkele vlagpaal op ’n berg, soos ’n vaandel op ’n heuwel.” HERE Tog wag die HERE gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys. Die HERE is ’n God wat regverdig is. Hy seën die mens wat op Hom vertrou vir hulp. Volk van Sion, wat in Jerusalem woon, julle sal nie meer huil nie. Hy sal genade aan julle bewys as julle Hom vra om julle te help. Hy sal dadelik reageer as julle na Hom roep. Die HERE het jou brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink. Maar Hy sal nog by jou wees om jou te leer. Jy sal Hom met jou eie oë sien, die Een wat jou leer. Jy sal ’n stem hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” Daardie dag sal jy al jou silwer afgode en goue beelde stukkend slaan. Jy sal hulle weggooi soos smerige klere. “Aaklig!” sal jy sê. “Weg daarmee!” Dan sal die HERE jou seën. Jy sal genoeg reën kry wanneer jy plant. Daar sal groot oeste wees en baie weiveld vir jou vee. Die beeste en die donkies wat die grond omploeg, sal die beste graan vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. Daardie dag sal jou vyande vernietig word. Hulle torings sal omgegooi word. Daar sal strome waters wees wat van elke berg en heuwel af kom. Die maan sal so skerp wees soos die son. En die son sal sewe keer helderder wees. Dit sal lyk soos die son van sewe dae. So sal dit wees die dag wanneer die HERE sy volk begin genees en die seerplekke verbind waar Hy hulle geslaan het. Kyk! Die HERE kom uit die verte. Sy woede breek los, omring deur donker wolke soos rook. Sy lippe is vol wraak. Sy woorde verteer soos vuur. Sy woede kom soos vloedwater oor sy vyand. Hy voer hulle weg en sif die trotse nasies. Hy gaan ’n toom aan hulle sit en hulle weglei om hulle te vernietig. Maar julle sal sing, van blydskap soos wanneer julle feesvier. Julle sal so bly wees soos wanneer ’n fluitspeler ’n groep pelgrims begelei na Jerusalem, op pad na die berg van die HERE, na die Rots van Israel. En die HERE sal roep met ’n magtige stem. Woedend sal Hy sy vyande platslaan. Hy sal hulle bykom met verterende vlamme, met ’n wolkbreuk, met donderstorms en reuse haelstene. Hy sal hulle vernietig. Die stem van die HERE sal Assirië verpletter. Met sy septer sal Hy hulle platslaan. En wanneer Hy hulle slaan met sy roede, sal sy volk tydhou met musiek van simbale en liere. Die HERE self sal teen hulle veg met sy magtige arm. Die brandoond is lankal klaar vir die Assiriese koning. ’n Groot hoop hout is reggesit daarvoor. Die asem van die HERE sal dit aan die brand steek soos die vuur van ’n vulkaan.