Jesaja 30:12-33

Jesaja 30:12-33 AFR20

Daarom, so sê die Heilige van Israel: “Omdat julle hierdie woord verwerp het, vertrou het op afpersing en skelmstreke, en daarop gesteun het, daarom sal hierdie sondeskuld vir julle wees soos die bres in 'n hoë muur wat oorhel om te val, waarvan die ineenstorting skielik, onverwags, sal kom. Dit sal gebreek word soos 'n pottebakkerskruik breek – dit word genadeloos stukkend geslaan, sodat tussen die stukkies geen potskerf gevind kan word om kole uit die vuurmaakplek te haal of water uit 'n kuil te skep nie.” Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier. Julle sê, ‘Nee, maar op perde sal ons vlug’ – daarom sál julle vlug – ‘op vinniges sal ons ry’ – daarom sál julle agtervolgers wys hoe vinnig hulle is. Eenduisend van julle sal vir die dreigement van een vlug; vir die dreigement van vyf sal julle vlug, totdat daar van julle soveel oorbly soos 'n vaandel op die kruin van 'n berg, soos 'n banier op 'n heuwel.” Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die HERE; gelukkig is almal wat op Hom wag. Ja, volk wat op Sion, in Jerusalem, woon, julle sal sekerlik nie meer huil nie. Die HERE sal beslis genade aan julle bewys op julle roepstem om hulp. Wanneer Hy hoor, sal Hy julle antwoord. My Heer sal vir julle brood van kommer en water van verdrukking gee. Maar dan sal julle Groot Leermeester Hom nie meer vir julle verberg nie; julle eie oë sal julle Groot Leermeester sien. Met julle ore sal julle 'n woord agter julle hoor: “Hier is die pad, gaan daarop, wanneer julle regs of links wil hou!” Dan sal julle die plaatwerk van julle silwerafgodsbeelde, en die bedekking van julle vergulde gegote beelde onrein verklaar. Julle sal dit weggooi as iets wat besoedel is. “Gemors!” sal jy daarvoor sê. Hy sal reën gee vir jou saad wat jy in die grond saai, en die opbrengs van die grond sal voedsel wees – dit sal geil en vet wees. Jy sal jou vee op daardie dag laat wei – 'n uitgestrekte weiveld. Die beeste en donkiehingste wat die grond bewerk, sal goeie voer eet, voer wat uitgewan is met 'n houtgraaf en gaffel. Op elke hoë berg en elke verhewe heuwel sal daar leivore, watervore, wees, op die dag van die groot slagting wanneer torings val. Die lig van die volmaan sal wees soos die lig van die helder son, en die lig van die helder son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag wanneer die HERE die gebreekte plekke van sy volk verbind, en die wonde wat Hy toegedien het, genees. Kyk, die Naam van die HERE kom van ver, sy toorn brand, dit laai op. Sy lippe is vol vervloeking, sy tong 'n verterende vuur. Sy asem is soos 'n stroom in vloed – tot by die nek reik dit. Hy is daarop uit om nasies te skud in die sif van vernietiging. Hy sit teuels wat mislei aan die kake van volke. Vir julle sal daar sang wees soos in die nag van heiliging voor 'n fees – met vreugde in die hart soos in 'n optog met fluite, op pad na die berg van die HERE, na die Rots van Israel. Die HERE sal sy majestueuse stem laat hoor, die neerkom van sy arm laat sien in heftige striemende toorn – 'n vlam van verterende vuur, gietende reën, stortbuie en haelstene. Ja, vanweë die stem van die HERE sal Assirië verskrik wees – met 'n stok sal Hy hom slaan. Elke hou van die staf wat straf, wat die HERE op hom laat neerkom, sal onder tamboeryn- en lierspel plaasvind. Met sy oorlogstuig sal Hy met opgeligte hand teen die land veg. Ja, 'n brandstapel is lankal reeds gepak; dit is ook vir die koning gereedgemaak – diep en wyd – 'n stapel, met vuur en hout in oorvloed; die asem van die HERE brand soos 'n stroom swawel daarin.