HEBREËRS 7:11-28

HEBREËRS 7:11-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie? As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. Van Hom word getuig: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader. Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed, maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het: “Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ” So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword. Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

HEBREËRS 7:11-28 Bybel vir almal (ABA)

Die volk het die Wette van Moses ontvang om vir hulle te vertel van die werk van die priesters van die nageslag van Levi. As dit waar is dat hierdie priesters van die nageslag van Levi hulle werk heeltemal klaar gedoen het, hoekom moes daar 'n ander priester kom? Hoekom moes hy 'n priester wees wat soos Melgisedek is en nie soos Aäron nie? Want wanneer ander mense priesters word, dan moet die wet ook verander. Want die Ou Testament het hierdie belofte oor hierdie ander priester gemaak, en hy was van 'n ander stam. Niemand van hierdie stam was 'n priester by die altaar nie. Want almal weet dat ons Here van die Juda-stam kom. Moses het niks gesê oor priesters in die Juda-stam nie. En wanneer daar 'n ander priester kom wat soos Melgisedek is, dan is dit nog meer duidelik dat hy nie 'n priester geword het soos die wette en reëls oor mense se afstammelinge sê nie. Nee, Hy het 'n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Jy self sal altyd 'n priester wees, soos Melgisedek 'n priester was. Daar is nie meer priesters nie, want die wette wat voorheen daar was oor priesters, was swak en dit het nie vir die mense gehelp nie. Ja, die wet het niks heeltemal reg gemaak soos dit moes wees nie. Maar nou gee God vir ons iets, en ons is baie seker daarvan. Daarom kan ons nou nader kom na God toe. Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het. Die Levi-priesters het priesters geword, maar God het dit nie vir hulle belowe nie. Maar Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het, en God was self die getuie. Hy het gesê: Die Here het belowe, en dit sal so wees: Jy self sal altyd 'n priester wees. God het dit vir Jesus belowe, daarom het Jesus die Een geword wat borg staan vir 'n beter verbond. Die ou verbond en die nuwe verbond is nie dieselfde nie: Priesters het gesterf, en daar het altyd ander priesters in hulle plek gekom. Daarom was daar baie priesters in die ou verbond. Maar Jesus lewe vir altyd, daarom hou Hy aan om 'n priester te wees. Daarom kan Jesus ook die mense heeltemal red, die mense wat Hy na God toe gelei het. Jesus kan dit doen omdat Hy vir altyd lewe om vir God te vra om hulle te help. Ons Hoëpriester moes só wees: Hy moes aan God gewy wees, Hy moes onskuldig en rein wees, Hy moes nie saam met sondaars gelewe het nie, Hy moes 'n plek kry bokant die hemel by God. Die hoëpriesters wat Leviete was, moes elke dag eers vir hulle eie sondes offers bring en daarna moes hulle vir die volk offers bring. Maar ons Hoëpriester moet dit nie doen nie, want Hy het Homself ge-offer, Hy het dit een maal en vir altyd gedoen en Hy bring nie weer offers nie. Want die Wette van Moses kies swak mense om hoëpriesters te wees. Maar God se belofte het ná die wet gekom, sy belofte kies die Seun van God om Hoëpriester te wees, en die Seun het die werk vir altyd klaar gedoen, die werk wat 'n Hoëpriester moet doen.

HEBREËRS 7:11-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk die wet ontvang — waarom was dit nog nodig dat 'n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet; omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan 'n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie. Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie. En nog baie duideliker is dit as daar 'n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek, een wat dit geword het nie kragtens die wet van 'n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe. Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Want aan die een kant is daar die opheffing van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan, omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van 'n beter hoop waardeur ons tot God nader. En vir sover dit nie sonder eedswering was nie — want húlle het sonder eedswering priesters geword, maar Hy met eedswering deur die Een wat aan Hom gesê het: Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek — in sover het Jesus van 'n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in 'n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so 'n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.

HEBREËRS 7:11-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie. Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek – een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. Daar word trouens getuig: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Aan die een kant is dit die opheffing van die voormalige gebod, omdat dit swak en nutteloos was – die wet het mos niks vervolmaak nie – maar aan die ander kant is dit die aanbreek van 'n beter hoop, waardeur ons tot God nader. Wat hierdie saak betref, dit het nie sonder eedswering plaasgevind nie: Hulle het wel sonder eedswering priesters geword, maar Hy het dit inderdaad met eedswering geword, deur God wat vir Hom gesê het: “Die Here het 'n eed afgelê, en dit sal Hom nie berou nie: Jy is priester vir ewig.” Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword. Boonop was daar baie ander mense wat priesters geword het, omdat die priesters deur die dood verhinder is om aan te bly; maar omdat Hy tot in ewigheid bly, besit Hy 'n priesterskap wat nie tot 'n einde kom nie. Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. So 'n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as 'n offer gebring het. Die wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan, maar die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.

HEBREËRS 7:11-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

As die volmaaktheid dan deur die Levitiese priesterdom was, (want daaronder het die volk die wet ontvang), wat was daar verder nodig dat 'n ander priester sou opstaan volgens die orde van Melgisédek, en nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Omdat die priesterskap verander word, word daar ook noodwendig 'n verandering van die wet gemaak. Want hy van wie hierdie dinge gespreek word, behoort aan 'n ander stam, waarvan niemand by die altaar opgetree het nie. Want dit is duidelik dat ons Here uit Juda ontstaan het; van watter stam Moses niks oor priesterskap gespreek het nie. En dit is nog baie duideliker: want ná die gelykenis van Melgisédek het daar 'n ander priester opgestaan, Wie is gemaak, nie volgens die wet van 'n vleeslike gebod nie, maar volgens die krag van 'n eindelose lewe. Want hy getuig: U is 'n priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Want daar is waarlik 'n vernietiging van die gebod wat voorlê weens die swakheid en nutteloosheid daarvan. Want die wet het niks volmaak gemaak nie, maar die inbring van 'n beter hoop. Waardeur ons tot God nader. En vir sover hy nie sonder 'n eed priester gemaak is nie; Want daardie priesters is sonder eed aangestel, maar dit met 'n eed deur hom wat vir hom gesê het: Die Here het gesweer en sal hom nie bekeer nie: U is 'n priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Deur soveel is Jesus verseker van 'n beter testament. En hulle was waarlik baie priesters, omdat hulle weens die dood nie toegelaat is om te bly nie; Maar hierdie man, omdat hy vir ewig aanhou, het 'n onveranderlike priesterskap. Daarom is Hy ook in staat om hulle tot die uiterste te red wat deur Hom na God toe kom, aangesien Hy altyd lewe om vir hulle in te tree. Want so 'n hoëpriester het ons geword, wat heilig, onskadelik, onbesmet, afgesonder van sondaars en hoër as die hemel gemaak is; Wie het nie nodig om daagliks, soos daardie hoëpriesters, offerande te bring nie, eers vir sy eie sondes en dan vir die volk s'n; daarvoor het hy een keer gedoen toe hy homself geoffer het. Want die wet maak mense hoëpriesters met swakhede; maar die woord van die eed wat van die wet af gekom het, maak die Seun wat vir ewig geheilig is.

HEBREËRS 7:11-28 Die Boodskap (DB)

Daar is nog ’n ander vraag: Waarom moes daar nog ’n ander soort priester kom? Aäron, as Leviet, en sy nakomelinge was mos daar: Waarom is priesters soos Melgisedek ook nog nodig? Immers, die wet en alles is gegee met die Leviete wat dit organiseer. Wel, die Levitiese priesters met die wet en al kon nie doen wat hulle moes doen nie. Daarom was ’n priester wat soos Melgisedek is, ook nodig. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander. Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie. Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie. Want die Skrif sê self: “U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.” Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God. En nog ’n ander ding: God het Jesus met ’n eed priester gemaak. Nie een van die ander priesters kan dit sê nie. Toe God Jesus as priester aangestel het, het Hy gesê: “Met ’n eed het die Here sy woord gegee en sal dit nooit terugtrek of breek nie: ‘Jy is die priester vir ewig en altyd.’” Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is. In die verlede was daar rye priesters, want soos hulle dood is, moes daar nuwe priesters aangestel word. Met Jesus is dit glad nie so nie. Hy leef vir ewig en daarom sal Hy vir altyd priester bly. Ons hoef dus nie ’n ander priester te soek nie. Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd. Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense. Maar dit is nie vir Jesus nodig nie. Hy het een offer gebring en toe het God gesê dit is genoeg. Daar is nie meer offers nodig nie. En daardie offer was toe Hy Homself geoffer het. Laat ek dit ’n bietjie saamvat: die hoëpriesters van ouds was maar swak mense. Nou, na die wet, het God met ’n eed sy Seun Hoëpriester gemaak. Hy is volmaak en sal sorg dat alles gedoen word wat nodig is. Dit sal vir altyd so wees.

HEBREËRS 7:11-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie? Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon, Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was; die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn! Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie. Dis net vir Christus wat Hy gesê het: “Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: Jy sal vir ewig priester bly.” Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond. Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly. Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie. Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit! Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel. Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer! Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.