Die volk het die Wette van Moses ontvang om vir hulle te vertel van die werk van die priesters van die nageslag van Levi. As dit waar is dat hierdie priesters van die nageslag van Levi hulle werk heeltemal klaar gedoen het, hoekom moes daar 'n ander priester kom? Hoekom moes hy 'n priester wees wat soos Melgisedek is en nie soos Aäron nie? Want wanneer ander mense priesters word, dan moet die wet ook verander. Want die Ou Testament het hierdie belofte oor hierdie ander priester gemaak, en hy was van 'n ander stam. Niemand van hierdie stam was 'n priester by die altaar nie. Want almal weet dat ons Here van die Juda-stam kom. Moses het niks gesê oor priesters in die Juda-stam nie. En wanneer daar 'n ander priester kom wat soos Melgisedek is, dan is dit nog meer duidelik dat hy nie 'n priester geword het soos die wette en reëls oor mense se afstammelinge sê nie. Nee, Hy het 'n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie. Want in die Ou Testament is geskryf:
Jy self sal altyd 'n priester wees,
soos Melgisedek 'n priester was.
Daar is nie meer priesters nie, want die wette wat voorheen daar was oor priesters, was swak en dit het nie vir die mense gehelp nie. Ja, die wet het niks heeltemal reg gemaak soos dit moes wees nie. Maar nou gee God vir ons iets, en ons is baie seker daarvan. Daarom kan ons nou nader kom na God toe.
Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het. Die Levi-priesters het priesters geword, maar God het dit nie vir hulle belowe nie. Maar Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het, en God was self die getuie. Hy het gesê:
Die Here het belowe,
en dit sal so wees:
Jy self sal altyd 'n priester wees.
God het dit vir Jesus belowe, daarom het Jesus die Een geword wat borg staan vir 'n beter verbond. Die ou verbond en die nuwe verbond is nie dieselfde nie: Priesters het gesterf, en daar het altyd ander priesters in hulle plek gekom. Daarom was daar baie priesters in die ou verbond. Maar Jesus lewe vir altyd, daarom hou Hy aan om 'n priester te wees. Daarom kan Jesus ook die mense heeltemal red, die mense wat Hy na God toe gelei het. Jesus kan dit doen omdat Hy vir altyd lewe om vir God te vra om hulle te help.
Ons Hoëpriester moes só wees: Hy moes aan God gewy wees, Hy moes onskuldig en rein wees, Hy moes nie saam met sondaars gelewe het nie, Hy moes 'n plek kry bokant die hemel by God. Die hoëpriesters wat Leviete was, moes elke dag eers vir hulle eie sondes offers bring en daarna moes hulle vir die volk offers bring. Maar ons Hoëpriester moet dit nie doen nie, want Hy het Homself ge-offer, Hy het dit een maal en vir altyd gedoen en Hy bring nie weer offers nie. Want die Wette van Moses kies swak mense om hoëpriesters te wees. Maar God se belofte het ná die wet gekom, sy belofte kies die Seun van God om Hoëpriester te wees, en die Seun het die werk vir altyd klaar gedoen, die werk wat 'n Hoëpriester moet doen.