As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie.
Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek – een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. Daar word trouens getuig:
“Jy is priester vir ewig,
volgens die orde van Melgisedek.”
Aan die een kant is dit die opheffing van die voormalige gebod, omdat dit swak en nutteloos was – die wet het mos niks vervolmaak nie – maar aan die ander kant is dit die aanbreek van 'n beter hoop, waardeur ons tot God nader.
Wat hierdie saak betref, dit het nie sonder eedswering plaasgevind nie: Hulle het wel sonder eedswering priesters geword, maar Hy het dit inderdaad met eedswering geword, deur God wat vir Hom gesê het:
“Die Here het 'n eed afgelê,
en dit sal Hom nie berou nie:
Jy is priester vir ewig.”
Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword. Boonop was daar baie ander mense wat priesters geword het, omdat die priesters deur die dood verhinder is om aan te bly; maar omdat Hy tot in ewigheid bly, besit Hy 'n priesterskap wat nie tot 'n einde kom nie. Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree.
So 'n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as 'n offer gebring het. Die wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan, maar die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.