En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie? Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon, Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was; die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn! Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie. Dis net vir Christus wat Hy gesê het: “Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: Jy sal vir ewig priester bly.” Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond. Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly. Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie. Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit! Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel. Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer! Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.
Lees HEBREËRS 7
Luister na HEBREËRS 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: HEBREËRS 7:11-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's