GENESIS 41:9-36
GENESIS 41:9-36 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Ek het iets vergeet en ek wil dit vandag vir jou vertel. 'n Tyd gelede was jy kwaad vir ons en jy het my en die hoof van die bakkers in die tronk toegesluit, in die huis van die hoof van die wagte wat jou oppas. Ons het een nag gedroom, ek en hy. Elkeen het sy eie droom gehad, en elkeen se droom het iets anders beteken. Saam met ons was daar 'n jong Hebreër. Hy was die slaaf van die hoof van jou wagte. Ons het vir hom vertel wat ons gedroom het, en hy het vir ons gesê wat ons drome beteken. Dit het alles gebeur presies soos hy dit vir ons gesê het: Jy het my werk vir my teruggegee en jy het die bakker laat ophang.” Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gaan haal. Hy het gewas en geskeer en ander klere aangetrek en na die farao toe gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom, maar niemand kan vir my sê wat die drome beteken nie. Ek het gehoor dat jy kan sê wat 'n droom beteken as jy dit hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Dit is nie ék wat dit doen nie. Dit is Gód wat vir jou die regte antwoord sal gee.” Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom ek staan op die wal van die Nyl-rivier. Toe kom daar uit die rivier sewe vet, mooi koeie en hulle wei tussen die riete. Daarna het daar sewe ander koeie uitgekom na hulle toe. Hulle was baie lelik en maer. Ek het nog nooit leliker koeie in Egipte gesien nie. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe vet koeie op. Hulle het die vet koeie ingesluk, maar 'n mens kon nie sien dat hulle die vet koeie opgevreet het nie, want hulle was so maer soos voorheen. Toe het ek wakker geword. “Daarna het ek gedroom daar is 'n koringplant, en daar groei sewe koring-are uit die plant. Die koring-are was mooi en vol. Ná hulle het daar ook sewe droë, maer koring-are uitgekom. Die warm oostewind het hulle droog gewaai. Die sewe maer koring-are sluk toe die sewe mooi koring-are in. “Ek het dit vertel vir die waarsêers, maar niemand kon vir my sê wat my drome beteken nie.” Josef het vir die farao gesê: “Die twee drome wat jy gehad het, beteken dieselfde. God het vir jou gesê wat Hy wil doen. Die sewe mooi koeie beteken sewe mooi jare, en die sewe mooi koring-are beteken ook sewe mooi jare en genoeg kos. Die drome beteken dieselfde. Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle uitgekom het, beteken sewe jare, en die sewe maer koring-are beteken ook sewe jare. Die warm oostewind het die koring-are droog gewaai. Daar sal sewe jaar lank hongersnood wees. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen. Daar sal nou sewe jaar lank baie kos in die hele Egipte wees, meer as genoeg. Daarna sal daar sewe jaar lank hongersnood wees. Die mense sal vergeet hoe baie kos daar was. Die mense en die land sal arm word. Die mense sal nie meer kan onthou van die baie kos wat daar was nie, omdat dit dan so sleg sal gaan. Die droom het twee maal na jou toe gekom, want God het dit klaar besluit en Hy sal nie lank wag om dit te doen nie.” Josef het gesê: “Jy moet nou 'n slim man kies en hom die hoof oor die mense van Egipte maak. Dit is wat jy moet doen: Jy moet amptenare kies en aanstel oor Egipte en hulle moet een vyfde van die koring-oes bymekaarmaak in die sewe goeie jare. Wanneer hulle al die kos bymekaargemaak het, dan moet hulle die koring bêre en oppas in die farao se stoorkamers in die stede. Daar sal dan kos wees om te gebruik in die sewe jare wanneer die koring-oes min sal wees in Egipte. Dan sal dit nie so sleg gaan met die land nie.”
GENESIS 41:9-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring. Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers. En ons het in dieselfde nag 'n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen 'n droom met besondere betekenis. En daar was by ons 'n Hebreeuse jongman, 'n kneg van die owerste van die lyfwag — aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee. En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur — my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang. Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: dié het in hulle maag ingegaan, maar 'n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword. Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is — dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen. Laat Farao dan nou uitkyk na 'n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. So sal dan die voedsel 'n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.
GENESIS 41:9-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het. U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag. “Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg. Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom. Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.” Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe. Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.” Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan. Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie. Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. “Toe het ek wakker geskrik. “Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in. “Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.” Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer. “Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte. Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer. Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is. Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”
GENESIS 41:9-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hoof van die skinkers praat toe met die farao: “My eie misstappe moet ek vandag in herinnering roep. Die farao het hom bloedig vererg vir sy dienaars en het my onder bewaking geplaas in die huis van die hoof van die lyfwag, vir my en die hoof van die bakkers. Ons het in dieselfde nag gedroom, ek en hy; elkeen het sy eie droom met 'n besondere betekenis gedroom. By ons was daar 'n Hebreeuse jong man, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het dit vir hom vertel, en hy het ons drome vir ons verklaar. Vir elkeen het hy dit volgens sy droom verklaar. En soos hy dit vir ons verklaar het, het dit gebeur: Vir my het die farao in my amp herstel, maar hom het hy opgehang.” Die farao het Josef toe laat roep, en hulle het hom gou uit die put gehaal. Nadat hy geskeer en ander klere aangetrek het, het hy na die farao gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie. Ek het van jou gehoor, naamlik dat jy net 'n droom hoef te hoor om dit te verklaar.” Josef het die farao geantwoord: “Dit berus nie by my nie! Net God kan 'n gunstige antwoord gee vir die farao.” Toe sê die farao vir Josef: “Kyk, in my droom staan ek op die wal van die Nyl. Meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat treurig en baie lelik lyk, kom toe ná hulle op uit die Nyl. Ek het in die hele Egipteland nog nooit koeie gesien wat so lelik soos hulle is nie. En toe vreet die maer en lelike koeie die eerste sewe vet koeie op! Toe hulle in hulle ingewande was, kon 'n mens nie eers sien dat hulle in hulle ingewande ingegaan het nie. Hulle het so sleg gelyk soos aan die begin. Toe het ek wakker geword. “Toe sien ek in my droom: Kyk, sewe koringare, vol en mooi, staan op uit een halm. Meteens spruit daar ná hulle sewe maer koringare uit, verskroei deur die oostewind, en toe sluk die maer are die sewe mooi are in! Ek het dit vir die waarsêerpriesters vertel, maar niemand kon dit vir my verduidelik nie.” Josef sê toe vir die farao: “Die drome van die farao – dit is maar een droom. Dit wat God gaan doen, het Hy aan die farao bekend gemaak. Die sewe mooi koeie is sewe jare, en die sewe mooi koringare is ook sewe jare. Dit is een droom. Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare, en ook die sewe maer are, verskroei deur die oostewind. Dit sal sewe jaar van hongersnood wees. Dit is soos ek vir die farao gesê het: Wat God gaan doen, het Hy die farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. Maar daarna breek sewe jaar van hongersnood aan, en al die oorvloed in Egipteland sal vergete wees. Die hongersnood sal die land uitmergel. Die oorvloed in die land sal vanweë die hongersnood wat daarop volg, nie meer onthou word nie. Ja, dit sal baie erg wees. En wat die herhaling van die droom aan die farao op twee maniere betref: Omdat die saak van God se kant af vasstaan, is God haastig om dit gou te doen. “Daarom moet die farao 'n man met insig en wysheid kies, en hom oor Egipteland aanstel. Die farao moet optree en opsigters aanstel oor die land, en hy moet in die sewe jaar van oorvloed een vyfde van Egipteland se oes opeis. Hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, bymekaarmaak. Hulle moet op gesag van die farao voedsel in die dorpe opgaar en bewaar. Die voedsel sal as voorraad vir die land dien vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipteland sal heers, sodat die land nie deur hongersnood ten gronde gaan nie.”
GENESIS 41:9-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het die hoof skinker met Farao gespreek en gesê: Ek dink vandag aan my oortredings. Farao was toornig op sy dienaars en het my in bewaring geplaas in die owerste van die lyfwag se huis, ek sowel as die hoofbakker. En ons het in een nag 'n droom gedroom, ek en hy; ons het elkeen gedroom volgens die uitlegging van sy droom. En daar was by ons 'n jongman, 'n Hebreër, dienaar van die owerste van die lyfwag; en ons het hom dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; vir elkeen volgens sy droom het hy uitgelê. En dit het gebeur, soos Hy dit vir ons uitgelê het, so het dit gebeur; my het hy in my amp herstel, en hom het hy opgehang. Toe het Farao gestuur en Josef laat roep, en hulle het hom haastig uit die put uitgebring; en hy het homself geskeer en sy klere aangetrek en by Farao ingegaan. Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gedroom, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; en ek het van jou hoor sê dat jy 'n droom kan verstaan om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Dit is nie in my nie: God sal Farao 'n antwoord van vrede gee. Toe sê Farao vir Josef: In my droom, kyk, ek staan op die oewer van die rivier. En kyk, daar het uit die rivier sewe koeie opgekom, vet van vleis en goed behaag; en hulle het gevoed in 'n wei. En kyk, daar het nog sewe koeie agter hulle aan opgekom, arm en baie sleg bevoorreg en maer van vleis, soos ek nog nooit in die hele Egipteland gesien het weens slegtheid nie. En die maer en die swak koeie het die eerste sewe vet koeie opgeëet. En toe hulle dit opgeëet het, was dit nie bekend dat hulle dit geëet het nie; maar hulle was nog steeds sleg bevoorreg, soos in die begin. So het ek wakker geword. En ek het in my droom gesien, en kyk, daar het sewe ore in een steel opgekom, vol en goed; En kyk, daar het agter hulle sewe are opgekom, verdor, maer en deur die oostewind aangeblaas. En die maer are het die sewe goeie are opgeëet, en ek het dit aan die towenaars vertel; maar daar was niemand wat dit aan my kon verklaar nie. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een: God het aan Farao bekend gemaak wat hy gaan doen. Die sewe goeie koeie is sewe jaar; en die sewe goeie are is sewe jaar: die droom is een. En die sewe maer en swak koeie wat ná hulle opgekom het, was sewe jaar lank; en die sewe leë are wat deur die oostewind aangeblaas is, sal sewe jare van hongersnood wees. Dit is die woord wat ek met Farao gespreek het: Wat God van plan is om te doen, laat Hy aan Farao sien. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; En ná hulle sal sewe jaar van hongersnood opkom; en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word; en die hongersnood sal die land verteer; En die oorvloed sal in die land nie bekend wees nie vanweë die hongersnood wat daarop volg; want dit sal baie swaar wees. En daarom is die droom vir Farao twee maal verdubbel; dit is omdat die saak deur God vasgestel is, en God sal dit binnekort laat gebeur. Laat Farao dan nou na 'n verstandige en wyse man kyk en hom oor Egipteland aanstel. Laat Farao dit doen en laat hom offisiere oor die land aanstel en die vyfde deel van Egipteland in die sewe oorvloedige jare inneem. En laat hulle al die voedsel van die goeie jare wat kom bymekaarmaak en koring onder die hand van Farao opgooi, en laat hulle voedsel in die stede bewaar. En daardie voedsel sal vir die land as voorraad wees vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal wees; dat die land nie vergaan deur die hongersnood nie.
GENESIS 41:9-36 Die Boodskap (DB)
Toe het die hoofskinker van Josef onthou. “Ek wil u vandag van iemand vertel,” het hy gesê. “Op ’n keer was die koning vir my en die hoofbakker kwaad en het ons albei in die tronk gestop. “Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse. Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê. En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.” Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.” “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.” Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.” Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur. “Farao moet daarom ’n slim man soek met goeie politieke en administratiewe insigte wat oor die hele Egipte kan regeer. U moet ook bekwame bestuurders oor die hele land aanstel. Hulle moet ’n belasting van ’n vyfde van alles wat die land produseer, hef tydens die goeie jare. Tydens die sewe goeie jare moet hulle voedselvoorrade opbou. Met u hulp moet hulle koring in voorraadstede opberg en dit dan goed bewaar. Uit hierdie voedselvoorrade moet die mense dan gedurende die sewe honger jare leef. So sal die land hierdie verskriklike ramp oorleef.”
GENESIS 41:9-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het. ’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit. Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis. Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê. Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.” Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn. “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.” “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.” Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan. Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei. Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien het nie! Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet! Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker. “Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol. Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind. Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.” “Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom. Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen. Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring. Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie. Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen. “My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte. Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder. Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede. Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”