Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Ek het iets vergeet en ek wil dit vandag vir jou vertel. 'n Tyd gelede was jy kwaad vir ons en jy het my en die hoof van die bakkers in die tronk toegesluit, in die huis van die hoof van die wagte wat jou oppas. Ons het een nag gedroom, ek en hy. Elkeen het sy eie droom gehad, en elkeen se droom het iets anders beteken. Saam met ons was daar 'n jong Hebreër. Hy was die slaaf van die hoof van jou wagte. Ons het vir hom vertel wat ons gedroom het, en hy het vir ons gesê wat ons drome beteken. Dit het alles gebeur presies soos hy dit vir ons gesê het: Jy het my werk vir my teruggegee en jy het die bakker laat ophang.” Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gaan haal. Hy het gewas en geskeer en ander klere aangetrek en na die farao toe gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom, maar niemand kan vir my sê wat die drome beteken nie. Ek het gehoor dat jy kan sê wat 'n droom beteken as jy dit hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Dit is nie ék wat dit doen nie. Dit is Gód wat vir jou die regte antwoord sal gee.” Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom ek staan op die wal van die Nyl-rivier. Toe kom daar uit die rivier sewe vet, mooi koeie en hulle wei tussen die riete. Daarna het daar sewe ander koeie uitgekom na hulle toe. Hulle was baie lelik en maer. Ek het nog nooit leliker koeie in Egipte gesien nie. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe vet koeie op. Hulle het die vet koeie ingesluk, maar 'n mens kon nie sien dat hulle die vet koeie opgevreet het nie, want hulle was so maer soos voorheen. Toe het ek wakker geword. “Daarna het ek gedroom daar is 'n koringplant, en daar groei sewe koring-are uit die plant. Die koring-are was mooi en vol. Ná hulle het daar ook sewe droë, maer koring-are uitgekom. Die warm oostewind het hulle droog gewaai. Die sewe maer koring-are sluk toe die sewe mooi koring-are in. “Ek het dit vertel vir die waarsêers, maar niemand kon vir my sê wat my drome beteken nie.” Josef het vir die farao gesê: “Die twee drome wat jy gehad het, beteken dieselfde. God het vir jou gesê wat Hy wil doen. Die sewe mooi koeie beteken sewe mooi jare, en die sewe mooi koring-are beteken ook sewe mooi jare en genoeg kos. Die drome beteken dieselfde. Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle uitgekom het, beteken sewe jare, en die sewe maer koring-are beteken ook sewe jare. Die warm oostewind het die koring-are droog gewaai. Daar sal sewe jaar lank hongersnood wees. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen. Daar sal nou sewe jaar lank baie kos in die hele Egipte wees, meer as genoeg. Daarna sal daar sewe jaar lank hongersnood wees. Die mense sal vergeet hoe baie kos daar was. Die mense en die land sal arm word. Die mense sal nie meer kan onthou van die baie kos wat daar was nie, omdat dit dan so sleg sal gaan. Die droom het twee maal na jou toe gekom, want God het dit klaar besluit en Hy sal nie lank wag om dit te doen nie.” Josef het gesê: “Jy moet nou 'n slim man kies en hom die hoof oor die mense van Egipte maak. Dit is wat jy moet doen: Jy moet amptenare kies en aanstel oor Egipte en hulle moet een vyfde van die koring-oes bymekaarmaak in die sewe goeie jare. Wanneer hulle al die kos bymekaargemaak het, dan moet hulle die koring bêre en oppas in die farao se stoorkamers in die stede. Daar sal dan kos wees om te gebruik in die sewe jare wanneer die koring-oes min sal wees in Egipte. Dan sal dit nie so sleg gaan met die land nie.”
Lees Genesis 41
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Genesis 41:9-36
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's