Die hoof van die skinkers praat toe met die farao: “My eie misstappe moet ek vandag in herinnering roep. Die farao het hom bloedig vererg vir sy dienaars en het my onder bewaking geplaas in die huis van die hoof van die lyfwag, vir my en die hoof van die bakkers. Ons het in dieselfde nag gedroom, ek en hy; elkeen het sy eie droom met 'n besondere betekenis gedroom. By ons was daar 'n Hebreeuse jong man, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het dit vir hom vertel, en hy het ons drome vir ons verklaar. Vir elkeen het hy dit volgens sy droom verklaar. En soos hy dit vir ons verklaar het, het dit gebeur: Vir my het die farao in my amp herstel, maar hom het hy opgehang.”
Die farao het Josef toe laat roep, en hulle het hom gou uit die put gehaal. Nadat hy geskeer en ander klere aangetrek het, het hy na die farao gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie. Ek het van jou gehoor, naamlik dat jy net 'n droom hoef te hoor om dit te verklaar.” Josef het die farao geantwoord: “Dit berus nie by my nie! Net God kan 'n gunstige antwoord gee vir die farao.”
Toe sê die farao vir Josef: “Kyk, in my droom staan ek op die wal van die Nyl. Meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat treurig en baie lelik lyk, kom toe ná hulle op uit die Nyl. Ek het in die hele Egipteland nog nooit koeie gesien wat so lelik soos hulle is nie. En toe vreet die maer en lelike koeie die eerste sewe vet koeie op! Toe hulle in hulle ingewande was, kon 'n mens nie eers sien dat hulle in hulle ingewande ingegaan het nie. Hulle het so sleg gelyk soos aan die begin. Toe het ek wakker geword.
“Toe sien ek in my droom: Kyk, sewe koringare, vol en mooi, staan op uit een halm. Meteens spruit daar ná hulle sewe maer koringare uit, verskroei deur die oostewind, en toe sluk die maer are die sewe mooi are in! Ek het dit vir die waarsêerpriesters vertel, maar niemand kon dit vir my verduidelik nie.”
Josef sê toe vir die farao: “Die drome van die farao – dit is maar een droom. Dit wat God gaan doen, het Hy aan die farao bekend gemaak. Die sewe mooi koeie is sewe jare, en die sewe mooi koringare is ook sewe jare. Dit is een droom. Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare, en ook die sewe maer are, verskroei deur die oostewind. Dit sal sewe jaar van hongersnood wees. Dit is soos ek vir die farao gesê het: Wat God gaan doen, het Hy die farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. Maar daarna breek sewe jaar van hongersnood aan, en al die oorvloed in Egipteland sal vergete wees. Die hongersnood sal die land uitmergel. Die oorvloed in die land sal vanweë die hongersnood wat daarop volg, nie meer onthou word nie. Ja, dit sal baie erg wees. En wat die herhaling van die droom aan die farao op twee maniere betref: Omdat die saak van God se kant af vasstaan, is God haastig om dit gou te doen.
“Daarom moet die farao 'n man met insig en wysheid kies, en hom oor Egipteland aanstel. Die farao moet optree en opsigters aanstel oor die land, en hy moet in die sewe jaar van oorvloed een vyfde van Egipteland se oes opeis. Hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, bymekaarmaak. Hulle moet op gesag van die farao voedsel in die dorpe opgaar en bewaar. Die voedsel sal as voorraad vir die land dien vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipteland sal heers, sodat die land nie deur hongersnood ten gronde gaan nie.”