GENESIS 41:9-36

GENESIS 41:9-36 NLV

Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het. ’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit. Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis. Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê. Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.” Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn. “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.” “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.” Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan. Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei. Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien het nie! Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet! Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker. “Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol. Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind. Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.” “Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom. Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen. Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring. Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie. Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen. “My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte. Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder. Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede. Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”

Video vir GENESIS 41:9-36