ESRA 3:1-13
ESRA 3:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die sewende maand aankom en die kinders van Israel in die stede was, het die volk soos een man in Jerusalem byeengekom. En Jésua, die seun van Jósadak, met sy broers, die priesters, en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak en die altaar van die God van Israel gebou om daar brandoffers op te offer soos geskrywe staan in die wet van Moses, die man van God. En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die HERE, brandoffers smôrens en saans. En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was; en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die HERE en van elkeen wat aan die HERE 'n vrywillige gawe gebring het. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die HERE te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die HERE nog nie gelê was nie. Maar hulle het geld gegee aan die klipkappers en die skrynwerkers, en aan die Sidoniërs en Tiriërs voedsel en drank en olie om sederhout van die Líbanon te bring na die see, na Jafo, volgens die verlof van Kores, die koning van Persië, aan hulle. En in die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbábel, die seun van Seáltiël, 'n begin gemaak, hy en Jésua, die seun van Jósadak, en hulle ander broers, die priesters en die Leviete en almal wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het: hulle het die Leviete van twintig jaar oud en daarbo aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die HERE. En Jésua het opgetree, sy seuns en sy broers, Kádmiël met sy seuns, die seuns van Juda, soos een man, om toesig te hou oor die wat die werk gedoen het aan die huis van God, met die seuns van Hénadad, hulle seuns en hulle broers, die Leviete. Toe die bouers dan die fondament van die tempel van die HERE lê, het hulle die priesters in ampsgewaad met trompette, en die Leviete, die seuns van Asaf, met simbale opgestel om die HERE te loof volgens die instelling van Dawid, die koning van Israel. En hulle het aangehef met lof en dank aan die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid oor Israel is vir ewig! En die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê was. Maar baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is, terwyl baie met gejuig, met blydskap die stem verhef het. En die volk kon die geluid van blye gejuig nie onderskei van die geluid van gehuil van die volk nie, want die volk het gejuig met groot gejuig, sodat die geluid tot ver weg gehoor is.
ESRA 3:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Toe die sewende maand begin, was die Israeliete in die stede. Maar toe het hulle almal bymekaargekom in Jerusalem. Jesua seun van Josadak en die ander priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en die ander leiers het begin om die altaar van die God van Israel weer te bou. Hulle wou brand-offers op die altaar offer, hulle wou doen soos die Wette van Moses sê, Moses, die man van God. Hulle was bang vir die ander volke in die land, maar hulle het die altaar gebou op die plek waar hy moet wees, en hulle het brand-offers op die altaar gebring vir die Here, die brand-offers in die oggend en die brand-offers in die aand. Hulle het die Hutte-fees gevier soos die wette gesê het. Hulle het elke dag al die brand-offers gebring wat hulle moes bring. Van toe af het hulle die brand-offers gebring wat hulle elke dag moes bring, ook die offers op die Nuwemaan-feeste en op die ander feeste van die Here, en die offers wat mense self besluit het om te bring. Hulle het op die eerste dag van die sewende maand begin om die brand-offers vir die Here te bring, maar toe het hulle nog nie die fondamente van die tempel van die Here gebou nie. Hulle het geld gegee vir die mans wat klippe moes kap en vir die ander ambagsmanne, en hulle het vir die mense van Sidon en Tirus kos en wyn en olyf-olie gegee sodat hulle sederhout moet bring na die see by die stad Jafo. Koning Kores van Persië het gesê hulle mag dit doen. Dit was in die tweede jaar nadat hulle by die tempel-gronde in Jerusalem gekom het. Hulle het toe begin om die tempel te bou, dit was Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en die ander mense, die priesters en die Leviete en almal wat gevangenes was en wat teruggekom het na Jerusalem. Hulle het die Leviete wat 20 jaar oud en ouer was, gekies en aangestel om te kyk dat almal die werk aan die tempel reg doen. Jesua en die ander priesters, en Kadmiël en die mense wat hom gehelp het, het saam gekyk dat almal die werk aan die tempel reg doen. Hulle was almal Judeërs. Die Genadad-familie het hulle gehelp. Toe die bouers die fondamente van die tempel klaar gebou het, het die priesters hulle priester-klere aangetrek en hulle het gereedgestaan met trompette. Die Leviete van die Asaf-familie het gereedgestaan met simbale. Hulle moes die Here prys, hulle moes dit doen soos koning Dawid van Israel gesê het hulle moet doen. Hulle het begin om die Here te prys en vir Hom dankie te sê, “want Hy is goed, ja, Hy doen altyd vir Israel wat Hy gesê het.” Al die mense het hard begin skree en hulle het die Here geprys omdat hulle die fondamente van die tempel kon bou. Toe die ouer priesters en Leviete en familiehoofde wat die eerste tempel geken het, sien dat hulle die fondamente van hierdie tempel bou, het hulle hard gehuil. Baie van die ander mense was so bly dat hulle aangehou het om hard te skree. Hulle het so hard geskree dat mense nie kon hoor dat party mense huil nie. Mense wat ver weg was, kon hoor hoe hulle skree.
ESRA 3:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom, en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God. Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans. Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring. Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here. Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand. Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie. Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië. In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here. Jesua, sy seuns, sy ampsgenote, die Judeërs Kadmiël en sy seuns, en ook die Leviete uit die nageslag van Genadad met hulle seuns en ampsgenote was saam in bevel van die mense wat die werk aan die tempel moes uitvoer. Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here klaar gelê het, het die priesters in ampsdrag reggestaan met trompette, en die Leviete van die Asafgroep met simbale, om die Here te loof soos koning Dawid van Israel bepaal het. Hulle het die Here begin loof en dank: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.” Die hele volk het dit tot lof van die Here uitgejubel, want die fondamente van die huis van die Here was gelê. Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel. Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.
ESRA 3:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. Die volk het toe soos een man in Jerusalem byeengekom. Jesua, seun van Josadak en sy medepriesters, en Serubbabel, seun van Sealtiël en sy ampsgenote, het gereedgemaak en die altaar van die God van Israel gebou om •brandoffers daarop te bring soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, die man van God. Alhoewel hulle bang was vir die mense in die omgewing, het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en hulle het daarop offers vir die HERE geoffer, die oggend en die aand se brandoffers . Hulle het ook die Huttefees gevier soos voorgeskryf, en die aantal daaglikse brandoffers soos voorgeskryf vir elke dag, en ook die gereelde brandoffers: die offers met nuwemaan, die offers by al die gewyde •feeste van die HERE, sowel as dié by al die vrywillige gawes aan die HERE. Vanaf die eerste dag van die sewende maand het hulle die brandoffers vir die HERE begin offer. Die fondament van die •tempel van die HERE was egter nog nie gelê nie. Toe het hulle die klipkappers en vakmanne met silwer betaal. Die Sidoniërs en Tiriërs is met kos, drank en olyfolie betaal, om met die magtiging van Kores, die koning van Persië, vir hulle sederhout vanaf die Libanon tot by die see by Jafo te bring. In die tweede maand van die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, het Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua, seun van Josadak, en die res van hulle ampsgenote, naamlik die priesters en Leviete, asook almal wat uit die ballingskap in Jerusalem aangekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om oor die daaglikse werk aan die huis van die HERE toesig te hou. Jesua, sy seuns en sy ampsgenote, Kadmiël en sy seuns, afstammelinge van Hodauja, moes gesamentlik toesig hou oor diegene wat die werk gedoen het aan die huis van God. Hulle was die nageslag van Genadad; hulle seuns en broers was Leviete. Toe die bouers die fondamente van die tempel van die HERE gelê het, het die toesighouers die priesters in ampsdrag gereed laat staan met trompette, en die Leviete, die nageslag van Asaf, met simbale, om die HERE te loof volgens die voorskrifte van Dawid, koning van Israel. Terwyl hulle die HERE loof en dank, het hulle gesing: “Want Hy is goed, ja, sy troue liefde oor Israel is vir altyd!” Die hele volk het baie hard gejuig toe die HERE geloof is, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê is. Baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, die oumense wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondamente van hierdie huis voor hulle oë gelê is, maar baie ander het hardop uitgeroep van vreugde. Niemand van die volk kon die klank van die vreugdekrete onderskei van die klank van die volk se gehuil nie, want die volk het so hard geskreeu dat dit baie ver gehoor kon word.
ESRA 3:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die sewende maand aanbreek en die kinders van Israel in die stede was, het die volk as een man in Jerusalem bymekaargekom. Toe het Jesua, die seun van Josadak, en sy broers, die priesters, en Serubbabel, die seun van Sealtiël, en sy broers opgestaan en die altaar van die God van Israel gebou om daarop brandoffers te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses die man van God. En hulle het die altaar op sy voetstukke gesit; want vrees was oor hulle vanweë die mense van daardie lande; en hulle het daarop brandoffers aan die HERE gebring, brandoffers soggens en saans. Hulle het ook die huttefees gehou, soos geskrywe is, en die daaglikse brandoffers volgens getal gebring, volgens die gebruik, soos die verpligting van elke dag vereis word; En daarna het die voortdurende brandoffer gebring, sowel van die nuwemane as van al die feestye van die HERE wat geheilig was, en van elkeen wat gewillig 'n vrywillige offer aan die HERE gebring het. Van die eerste dag van die sewende maand het hulle begin om brandoffers aan die HERE te bring. Maar die fondament van die tempel van die HERE was nog nie gelê nie. Hulle het ook geld gegee aan die messelaars en aan die skrynwerkers; en spys en drank en olie vir die van Sidon en vir die van Tirus, om sederbome van die Líbanon na die see van Joppe te bring, volgens die geskenk wat hulle van Kores, die koning van Persië, gehad het. En in die tweede jaar van hulle koms na die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel, die seun van Sealtiël, en Jesua, die seun van Josadak, en die oorblyfsel van hulle broers, die priesters en die Leviete, en al hulle begin wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het; en hy het die Leviete, van twintig jaar oud en daarbo, aangestel om die werk van die huis van die HERE voor te stel. Toe het Jesua met sy seuns en sy broers, Kadmiël en sy seuns, die seuns van Juda, saam gestaan om die werkers in die huis van God aan te stuur: die seuns van Henadad, met hulle seuns en hulle broers, die Leviete. En toe die bouers die fondament van die tempel van die HERE gelê het, het hulle die priesters in hulle kleed met trompette opgestel en die Leviete, die seuns van Asaf, met simbale, om die HERE te loof volgens die verordening van Dawid, die koning van Israel. En hulle het saam gesing om die HERE te loof en te loof; want Hy is goed, want sy goedertierenheid oor Israel is tot in ewigheid. En die hele volk het met 'n groot geroep geskreeu toe hulle die HERE geprys het, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê is. Maar baie van die priesters en Leviete en familiehoofde, wat ou manne was, wat die eerste huis gesien het toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is, het met 'n groot stem geween; en baie het uitgeroep van blydskap: Sodat die volk die geluid van die gejuig van die geween van die volk nie kon onderskei nie
ESRA 3:1-13 Die Boodskap (DB)
Toe die sewende maand van die jaar aanbreek, het die Israeliete van al die plekke waar hulle woon, in Jerusalem bymekaargekom. Jesua seun van Josadak, saam met die priesters en Serubbabel seun van Sealtiël saam met sy helpers, het daar vir die Here ’n offerplek gebou. Hulle wou op die altaar offers vir die Here bring soos Moses dit voorgeskryf het. Hulle was maar bang vir die ander volke wat ook in die land gebly het. Hulle het nogtans die altaar op die plek gebou waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het elke oggend en elke aand vir die Here offers op die altaar gebring. Hulle het die fees van die hutte gevier, soos dit vir hulle in die wet voorgeskryf is. Hulle het elke dag van die fees die offers gebring wat vir daardie dag voorgeskryf is. Na die fees het hulle begin om gereeld daar vir die Here te offer. Hulle het ook gereeld die offers vir die sabbat en die fees van die nuwemaan gebring en vir al die verskillende ander feeste wat vir die Here gehou word. Hulle het weer begin om soos vroeër vrywillige offers vir die Here te bring. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle dus begin om weer gereeld daar by die plek waar die tempel was, vir die Here te offer. In daardie stadium was die hoeksteen van die nuwe tempel nog nie op sy plek gesit nie. Hulle het mense gehuur wat geweet het hoe om klippe vierkantig te kap waarmee hulle die tempel kon bou. Hulle het ook by die Sidoniërs en Tiriërs die dinge geruil wat hulle nodig gehad het. Hulle het by hulle kos, drank en olyfolie geruil vir sederhout wat die Sidoniërs in die Libanonberge gaan kap het. Hulle het van die boomstompe vlotte gemaak en dit in die see vir hulle na Joppe toe gebring. Dit was wettig. Die opdrag van Kores, die koning van Persië, het hulle toegelaat om dit te doen. Serubbabel, Jesua, al die ander priesters en die Leviete en almal wat teruggekom het, het met die bouwerk begin. Dit was in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle by die plek in Jerusalem aangekom het waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het mans uit die familie van Levi wat ouer as twintig jaar was, aangestel om te kyk dat die ander reg bou. Jesua, sy seuns en sy kollegas, en Kadmiël en sy seuns uit die familie van Juda, asook die Leviete het saam toesig gehou oor die bouery van die huis van God. Toe die bouers die hoeksteen vir die Here se tempel op sy plek gaan sit het, het die priesters hulle spesiale klere aangetrek en op hulle plek gaan staan met hulle trompette in hulle hande. Ook die Leviete uit Asaf se familie het op hulle plek gaan staan met simbale. Almal kon toe saam vir die Here sing en sy Naam grootmaak soos Israel se koning Dawid gesê het dit gedoen moet word. Hulle het vir die Here lofliedere gesing en sy Naam grootgemaak: “Ons maak die Here se Naam groot, want Hy is baie goed vir ons. Sy liefde vir Israel hou nooit op nie.” Toe die hoeksteen op sy plek was, het almal wat daar was, uit volle bors vir die Here begin sing oor hoe groot en wonderlik Hy is. Baie van die ouer priesters, Leviete en leiers van families, wat nog met hulle eie oë die vorige tempel gesien het, het hardop begin huil. Baie ander het van vreugde gejuig. Niemand kon onderskei wat vreugdekrete was en watter ’n gehuil was nie. Dit was ’n oorverdowende lawaai wat tot in die verte gehoor kon word.
ESRA 3:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete het hulle in hulle stede gaan vestig. Vroegherfs het die hele volk in Jerusalem bymekaargekom. Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, asook Serubbabel seun van Sealtiël en sy familie het toe die altaar van die God van Israel begin herbou. Hulle wou offers daarop bring soos die wet van Moses, die man van God, voorgeskryf het. Hoewel hulle bang was vir die plaaslike inwoners, het hulle die altaar weer op sy oorspronklike plek herbou. Hulle het dadelik vir die HERE brandoffers op die altaar begin offer. Hulle het dit elke oggend en aand gedoen. Hulle het ook die Huttefees gevier soos die wet van Moses voorgeskryf het. Elke dag van die fees het hulle die voorgeskrewe offer vir die dag gebring. Ná die fees het hulle voortgegaan om die gereelde brandoffers te bring. Hulle het ook die offers gebring wat met die Nuwemaanfees en ook die ander feeste van die HERE saamgaan. Die mense het ook weer vrywillige offers vir die HERE gebring. Reeds vyftien dae voor die Huttefees sou begin, het die priesters al vir die HERE brandoffers geoffer. Hulle het dit al gedoen selfs voordat hulle die fondasies vir die HERE se tempel begin lê het. Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen. Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou. Jesua, sy seuns en sy familie, Kadmiël en sy seuns, en al die afstammelinge van Hodaja het toesig gehou oor die herbouing van God se tempel. Die Leviete uit die nageslag van Genadad het hulle ook gehelp om toesig te hou. Die dag toe die bouers die fondasie van die HERE se tempel gelê het, het die priesters, geklee in hulle seremoniële drag, hulle plekke ingeneem en op hulle trompette geblaas. Die Leviete en die Asafgroep het lof aan die HERE gebring deur simbale te slaan soos koning Dawid van Israel voorgeskryf het. Hulle het die HERE geloof en gedank deur te sing: “Hy is goed! Sy troue liefde vir Israel sal nooit ophou nie!” Al die mense het daarna hard uitgeroep terwyl hulle die HERE geloof het omdat die fondasie van die HERE se tempel gelê is. Baie van die ouer priesters, Leviete en van die ander leiers het onthou hoe die eerste tempel gelyk het. Toe hulle die fondasie van die nuwe tempel sien, het hulle hardop begin huil. Van die ander het op hulle beurt weer geskreeu van blydskap. Die geskreeu en gehuil kon nie onderskei word nie, maar het saam ’n oorverdowende lawaai veroorsaak. Dit kon baie ver gehoor word.