Esra 3:1-13

Esra 3:1-13 DB

Toe die sewende maand van die jaar aanbreek, het die Israeliete van al die plekke waar hulle woon, in Jerusalem bymekaargekom. Jesua seun van Josadak, saam met die priesters en Serubbabel seun van Sealtiël saam met sy helpers, het daar vir die Here ’n offerplek gebou. Hulle wou op die altaar offers vir die Here bring soos Moses dit voorgeskryf het. Hulle was maar bang vir die ander volke wat ook in die land gebly het. Hulle het nogtans die altaar op die plek gebou waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het elke oggend en elke aand vir die Here offers op die altaar gebring. Hulle het die fees van die hutte gevier, soos dit vir hulle in die wet voorgeskryf is. Hulle het elke dag van die fees die offers gebring wat vir daardie dag voorgeskryf is. Na die fees het hulle begin om gereeld daar vir die Here te offer. Hulle het ook gereeld die offers vir die sabbat en die fees van die nuwemaan gebring en vir al die verskillende ander feeste wat vir die Here gehou word. Hulle het weer begin om soos vroeër vrywillige offers vir die Here te bring. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle dus begin om weer gereeld daar by die plek waar die tempel was, vir die Here te offer. In daardie stadium was die hoeksteen van die nuwe tempel nog nie op sy plek gesit nie. Hulle het mense gehuur wat geweet het hoe om klippe vierkantig te kap waarmee hulle die tempel kon bou. Hulle het ook by die Sidoniërs en Tiriërs die dinge geruil wat hulle nodig gehad het. Hulle het by hulle kos, drank en olyfolie geruil vir sederhout wat die Sidoniërs in die Libanonberge gaan kap het. Hulle het van die boomstompe vlotte gemaak en dit in die see vir hulle na Joppe toe gebring. Dit was wettig. Die opdrag van Kores, die koning van Persië, het hulle toegelaat om dit te doen. Serubbabel, Jesua, al die ander priesters en die Leviete en almal wat teruggekom het, het met die bouwerk begin. Dit was in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle by die plek in Jerusalem aangekom het waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het mans uit die familie van Levi wat ouer as twintig jaar was, aangestel om te kyk dat die ander reg bou. Jesua, sy seuns en sy kollegas, en Kadmiël en sy seuns uit die familie van Juda, asook die Leviete het saam toesig gehou oor die bouery van die huis van God. Toe die bouers die hoeksteen vir die Here se tempel op sy plek gaan sit het, het die priesters hulle spesiale klere aangetrek en op hulle plek gaan staan met hulle trompette in hulle hande. Ook die Leviete uit Asaf se familie het op hulle plek gaan staan met simbale. Almal kon toe saam vir die Here sing en sy Naam grootmaak soos Israel se koning Dawid gesê het dit gedoen moet word. Hulle het vir die Here lofliedere gesing en sy Naam grootgemaak: “Ons maak die Here se Naam groot, want Hy is baie goed vir ons. Sy liefde vir Israel hou nooit op nie.” Toe die hoeksteen op sy plek was, het almal wat daar was, uit volle bors vir die Here begin sing oor hoe groot en wonderlik Hy is. Baie van die ouer priesters, Leviete en leiers van families, wat nog met hulle eie oë die vorige tempel gesien het, het hardop begin huil. Baie ander het van vreugde gejuig. Niemand kon onderskei wat vreugdekrete was en watter ’n gehuil was nie. Dit was ’n oorverdowende lawaai wat tot in die verte gehoor kon word.