Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom, en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God. Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans. Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring. Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here. Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand.
Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie. Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië.
In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here. Jesua, sy seuns, sy ampsgenote, die Judeërs Kadmiël en sy seuns, en ook die Leviete uit die nageslag van Genadad met hulle seuns en ampsgenote was saam in bevel van die mense wat die werk aan die tempel moes uitvoer.
Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here klaar gelê het, het die priesters in ampsdrag reggestaan met trompette, en die Leviete van die Asafgroep met simbale, om die Here te loof soos koning Dawid van Israel bepaal het. Hulle het die Here begin loof en dank: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.”
Die hele volk het dit tot lof van die Here uitgejubel, want die fondamente van die huis van die Here was gelê. Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel. Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.