Toe die sewende maand begin, was die Israeliete in die stede. Maar toe het hulle almal bymekaargekom in Jerusalem. Jesua seun van Josadak en die ander priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en die ander leiers het begin om die altaar van die God van Israel weer te bou. Hulle wou brand-offers op die altaar offer, hulle wou doen soos die Wette van Moses sê, Moses, die man van God. Hulle was bang vir die ander volke in die land, maar hulle het die altaar gebou op die plek waar hy moet wees, en hulle het brand-offers op die altaar gebring vir die Here, die brand-offers in die oggend en die brand-offers in die aand. Hulle het die Hutte-fees gevier soos die wette gesê het. Hulle het elke dag al die brand-offers gebring wat hulle moes bring. Van toe af het hulle die brand-offers gebring wat hulle elke dag moes bring, ook die offers op die Nuwemaan-feeste en op die ander feeste van die Here, en die offers wat mense self besluit het om te bring. Hulle het op die eerste dag van die sewende maand begin om die brand-offers vir die Here te bring, maar toe het hulle nog nie die fondamente van die tempel van die Here gebou nie.
Hulle het geld gegee vir die mans wat klippe moes kap en vir die ander ambagsmanne, en hulle het vir die mense van Sidon en Tirus kos en wyn en olyf-olie gegee sodat hulle sederhout moet bring na die see by die stad Jafo. Koning Kores van Persië het gesê hulle mag dit doen. Dit was in die tweede jaar nadat hulle by die tempel-gronde in Jerusalem gekom het. Hulle het toe begin om die tempel te bou, dit was Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en die ander mense, die priesters en die Leviete en almal wat gevangenes was en wat teruggekom het na Jerusalem. Hulle het die Leviete wat 20 jaar oud en ouer was, gekies en aangestel om te kyk dat almal die werk aan die tempel reg doen. Jesua en die ander priesters, en Kadmiël en die mense wat hom gehelp het, het saam gekyk dat almal die werk aan die tempel reg doen. Hulle was almal Judeërs. Die Genadad-familie het hulle gehelp. Toe die bouers die fondamente van die tempel klaar gebou het, het die priesters hulle priester-klere aangetrek en hulle het gereedgestaan met trompette. Die Leviete van die Asaf-familie het gereedgestaan met simbale. Hulle moes die Here prys, hulle moes dit doen soos koning Dawid van Israel gesê het hulle moet doen. Hulle het begin om die Here te prys en vir Hom dankie te sê,
“want Hy is goed,
ja, Hy doen altyd vir Israel
wat Hy gesê het.”
Al die mense het hard begin skree en hulle het die Here geprys omdat hulle die fondamente van die tempel kon bou. Toe die ouer priesters en Leviete en familiehoofde wat die eerste tempel geken het, sien dat hulle die fondamente van hierdie tempel bou, het hulle hard gehuil. Baie van die ander mense was so bly dat hulle aangehou het om hard te skree. Hulle het so hard geskree dat mense nie kon hoor dat party mense huil nie. Mense wat ver weg was, kon hoor hoe hulle skree.